Munisipaliteit se planne met riool, waterlekke en slaggate
Die munsipaliteit het onlangs 'n verslag aan Cogta (plaaslike regering) se portefeuljekomitee voorgelê waarin hul planne vir die stad se riool, waterlekke en slaggate uiteengesit het.
J.B. Marks se bestuurslui is verlede Dinsdag (20 Julie) oor die vingers getik tydens hulle vergadering met lede van Cogta (plaaslike regering) se portefeuljekomitee. Lede van Cogta het hulle aangevat oor hulle onvoorbereidheid om vrae oor onder meer ernstige diensleweringskwessies te beantwoord.
Die uitvoerende burgemeester, Mapule Mataboge, die waarnemende munisipale bestuurder, Ofentse Masibi, en lede van die bestuurskomitee moes verslag doen oor verskeie sake wat tydens ‘n vorige vergadering in Meimaand in Matlosana ter tafel gelê is.
Die vergadering verlede Dinsdag het van die begin af van onvoorbereidheid gespreek met die munisipaliteit se tegniese span wat 40 minute geneem het om almal vir die vergadering ingeskakel te kry.
Na afloop van die vergadering het die bestuur sewe dae gehad om ‘n volledige verslag voor te lê wat onder meer belangrike diesleweringskwessies aanspreek. Dié verslag is op 27 Julie 2021 aan die voorsitter van Cogta, Faith Mutambi, voorgelê. In die verslag word Potchefstromers se diensleweringsprobleme soos riool, waterlekke en slaggate aangespreek.
Volgens die verslag erken die munisipaliteit dat hulle ernstige probleme rondom die stad se rioolstelsel ervaar wat hulle aan ‘n ou infrastruktuur toeskryf. Hulle taak word verder bemoeilik deur mense wat ongewenste voorwerpe in die rioolstelsel gooi. In die verslag sit hulle die volgende planne uiteen:
- Identifiseer die areas wat die meeste aandag nodig het en gee eerste hieraan aandag: Ikageng begraafplaas, Lekhelestraat, Paryslaan se lyn en naby die Anglikaanse Kerk in Ikgageng.
- Die munisipaliteit is besig om hulle rioolplaas te opgradeer om die uitbreiding van die stad te akkommodeer.
- Die munisipaliteit het ook al die kritiese vakante poste in die riool- en waterbestuureenheid van die munisipaliteit gevul
- Vinnige reaksiespanne is tot stand gebring om rioolstortings vinniger aan te spreek
- Die munsipaliteit het onlangs ‘n bykomende diensleweringsvloot aangeskaf om ‘n vinniger en meer doeltreffende diens te verseker. In die 2021/2022 finansiële jaar is R30,6 miljoen vir diensleweringsvoertuie toegeken.
- ‘n Meesterplan vir die opgradering van die rioolstelsel is tydelik opgetrek en aan alle raadslede verskaf. Hierdie planne sal n die volgende raadsvergadering bespreek word.
- Die munisipaliteit onderneem om ‘n aggresiewe bewusmakingsveldtog te loods waarin die publiek ingelig word van die gevolge wat verband hou met die onwettige rioolverbindings en die weggooi van voorwerpe in rioolstelsels. Sommige van die voorwerpe wat in die rioollyne gevind is sluit, stene, klippe, diervelle en motoronderdele in.
Wat waterlekke aanbetref, erken die munisipaliteit dat waterverlies baie hoog is in vergelyking met die aanvaarbare nasionale standaard. Die waterverlies word toegeskryf aan foutiewe meters, ou infrastruktuur, en die tekort aan meters in sones wat die waterverlies en waterbeheer in die stad kan monitor. Hulle stel die volgende planne voor:
- Installering van ‘n telemetriese (tellemetric) sisteem
- Die installering van sonale meters op die nuwe netwerk
- ‘n Verhoging in die begroting om instandhouding uit te voer, waterlekke reg te maak en nuwe meters aan te skaf
- Om bestuurspanne aan te stel wat waterlekke herstel
- ‘n Waterveiligheidsplan is opgestel
- Die munisipaliteit het alle posisies gevul wat met die diens verband hou en nuwe posisies is in die organisasiestruktuur identifiseer
Wat slaggate aanbetref, het die stadraad erken dat sommige paaie ‘n totale opgradering kort en dat hulle op die stadium nie finansiële kapasiteit het om dit te doen nie.
Hulle het ook die probleem identifiseer dat die meeste slaggate direk aan waterlekke gekoppel word en dat die munisipaliteit die instandhouding nie op een slag kan uitvoer nie.
Die munisipaliteit het spanne saamgestel wat slaggate vul en het ook privaat diensverskaffers aangestel om noodherstelwerk en instandhouding uit te voer.
Die munisipaliteit het ‘n meesterplan vir paaie saamgestel en met alle raadslede en senior bestuurslui deurgewerk sodat dit binnekort goedgekeur kan word.




