Besighede en die breë publiek wat advertensies op kragbokse, asblikke en bome plak of inkap, is nie net besig om Cachet Park en die Bult omgewing se voorkoms te benadeel nie, maar vandaliseer ook die gebied.
Johan Naudé, die bestuurder van die Cachet Park CID, is al raadop oor die onwettige plakkate wat hy elke dag teekom.
Hierdie plakkate moet dan met moeite verwyder word aangesien die gom op die papier moeilik afkom. ‘n Ander kwelpunt is dat spykers gebruik word om advertensies in die eikebome in te kap.

Hierdie spykers kan langtermyn skade aan die bome veroorsaak, juis iets wat die Eikelaan Belangegroep onder leiding van Erfenis Potchefstroom nie sal wil laat gebeur nie.
“Ek weet van twee besighede wat aanhoudend hulle advertensies op enige plat oppervlak hier plak. Ek het ook al kontak gemaak met die besighede se eienaars, maar hulle steur hulle nie aan my nie. Dit is vandalisme en dit maak my kwaad omdat ons as die CID hard probeer en geld insit om dinge netjies te hou,” noem Naudé.

Hy noem dat hy van plan is om regstappe te neem teen die mense wat aanhoudend advertensies sonder toestemming plak en inkap.

“Ek het die eienaars kans gegee om dit af te haal en al menige kere gewaarsku. Iets sal hieraan gedoen moet word. Dit is ‘n groot frustrasie om elke dag ‘n paar van hierdie nuwe advertensies te sien.”




