
Hoër Volkskool Potchefstroom se museum is ‘n triomfantlike viering van die skool se eeubestaan. Met die eerste oogopslag kan ‘n mens in hierdie museum 100 jaar se geskiedenis en Volkies se trots aanvoel.
‘n Groot skoolwapen en foto van die skool se hoofgebou pryk op die muur met foto’s en prestasies wat in swart, geel en rooi aangebied word. Die museum is eg Volkies – daaroor is daar geen twyfel nie.
Hierdie museum is op 19 April 2022 as deel van Volkies se eeufeesvieringe amptelik geopen tydens ‘n spesiale funksie, waar oud-Regter Willem Hartzenberg as gasspreker opgetree het.
Video: Wouter Pienaar
Bekende oud-Volkies en onderwysers het ook die opening bygewoon.
Dit is gepas dat Volkies ‘n museum het om hulle eeubestaan te vier – die skoolhoof, mnr. Terry Nicholenas, het juis toe hy aangestel is, met die idee vorendag gekom dat ‘n spesiale museum opgerig moet word.
Dr. Elsabe de Klerk is verantwoordelik vir die oprig van hierdie pragtige museum wat fantastiese historiese inligting oor die ontstaan en ontwikkeling van die skool sowel as prestasies van oud-Volkies onder andere, bevat.
De Klerk het hierdie museum in die afgelope ses maande ingerig en ‘n fantastiese werk met die tyd en inligting tot haar beskikking gedoen.
In hierdie museum pryk die name van hoofleiers, dux-leerders, sportsterre sowel as Volkie-alumni soos Pik Botha, Alexa Strachan en Mynderd Vosloo om maar ‘n paar te noem.
By van die gedenkstukke op die muur is daar ook spesiale QR-kodes wat museumgangers kan gebruik om na ekstra berigte of videos te gaan loer.
“Die museum het net beperkte spasie en in ‘n 100 jaar se geskiedenis is daar vreeslik baie aandenkings. Dit is ‘n dinamiese museum wat gedurig opgedateer sal word. Dit was vir my baie lekker wees om aan hierdie museum te werk en die geskiedenis van die skool so goed as moontlik op te som,” vertel De Klerk.
Mnr. Morné Smit, akademiese adjunkhoof by Volkskool sowel as die eeufees-organiseerder, noem dat die skool ongelooflik trots is op hierdie museum.
“Ons weet dat oud-Volkies wat hier inloop baie trots is omdat mens dan deel voel van iets groot. Ons is redelik oorval met boodskappe van oud-Volkies wat graag die museum wil besoek. Die museumbesoekke kan per afspraak gereël word. Ons beplan ook om geleentheid vir besoekers te gee tydens die Classic Clash naweek in Mei,” noem Smit.
“Ons wil graag he dat al die oud-Volkies ‘n geleentheid kry om saam met ons in die vreugde van hierdie projek te kan deel,” voer Smit verder aan.
Belangstellendes wat die museum wil besoek of items vir die museum wil skenk kan vir Dr. Elsabe de Klerk by elsabedeklerk@gmail.com kontak.
















