Wanneer dit by die voorkoms en instandhouding van Cachet Park kom, is daar min mense so passievol soos Johan Naudé, die bestuurder van die Cachet Park CID.
Cachet Park CID, ‘n nie-winsgewende organisasie, het al deur die jare ‘n positiewe reputasie gebou met betrekking tot verskerpte veiligheid en algemene voorkoms om die Bult-area weer ‘n plek te kan maak waar inwoners, besigheidseienaars en kliënte van die area kan veilig voel.

Naudé wil hierdie reputasie aanhou versterk en tesame met verskeie projekte en inisiatiewe, is daar gedurig groei en nuwe verwikkelinge by Cachet Park CID.
Een verwikkeling wat Naudé opgewonde maak is die gebruik van die Buzzer-toep in samewerking met Mooirivier Beskerming en CB-Sekuriteit. Daar is ook ’n paar staatsinstellings wat betrokke wil raak.
Buzzer geolokaliseer outomaties ‘n gebruiker se ligging wanneer hulle die toepassing oopmaak. Waarskuwings gaan direk na die plaaslike beheerkamer/reaksiespan, sowel as die inwoners van daardie area.

“Buzzer gaan dit moontlik maak vir lede om vinnige reaksie te kry en as ‘n gemeenskap saam te werk om insidente uit te lig en te rapporteer. Ek het ook reeds ‘n lisensie gekoop en ons glo dat ons lede sal inkoop om Buzzer te gebruik,” noem hy.
Nog ‘n belangrike item op Cachet Park CID se agenda is die Wêreld Bloedskenkdag-byeenkoms wat Dinsdag, 14 Junie sal plaasvind. Verlede jaar het Cachet Park CID saam met die Bloedbank hulle teiken van 100 skenkers bereik.
“Vanjaar wil ons weer 100 skenkers bereik en ons glo dat die opkoms goed sal wees,” noem Naudé. Die opgradering van die beligting op Cachet Park en in die Bult-area is ‘n goeie pluspunt om misdaad te bekamp en ‘n veilige omgewing te skep. Tog noem Naudé dat daar ‘n tendens is dat studente slagoffers van sakkerollers word.

“Daar is baie voorvalle waar studente wat kuier, hulle besittings so verloor. Kriminele gee drukkies en in daardie geleentheid van nabye kontak word besittings gesteel,” vertel hy.
Hy raai ook die publiek aan om insidente te rapporteer en ‘n saak by die polisie aanhangig te maak, aangesien dit die bal aan die rol sit om groter bewusmaking oor die probleem in ‘n area te skep.
Volgens statistiek het die Cachet Park CID ‘n lidopname van 52.70 persent in die area wat vanaf die Dam-area tot by Chief Albert Luthuli-rylaan strek. Daar is tans 195 kameras, 24/7 monitering, ‘n toegewyde patrollievoertuig en 24/7-wagte. Buiten sekuriteitsdienste, bied die CID ook skoonmaakdienste, vullisverwydering en herwinning. Cachet Park CID is ook sedert 1 Januarie 2019 ‘n karwagvrye-area.

Volgens Naudé is daar soms ‘n wanopvatting oor wat die Cachet Park CID se mandaat is en noem hy dat die CID die beste doen met dit wat hulle het.
“Ons vervang nie straatligte en padtekens en herstel waterlekke of slaggate nie. Dit is die taak van die munisipaliteit. Ons het al verskeie kwessies aan die stadsraad gekommunikeer,” sluit hy af.




