Na ongeveer twee jaar is twee stoptekens weer op MC Roode-weg by die ingang van HTS Potchefstroom aangebring.
Die groot rede dat die stoptekens weer terug is, is eerstens om ‘n veiliger omgewing vir skoolkinders by die voetoorgang te skep waar taxi’s die kinders op en aflaai. Tweedens om dit makliker te maak vir motoriste om in en uit die skoolgronde te ry.
Volgens DA wyksraadslid, Anné van Onselen, was dit noodsaaklik dat die stoptekens weer opgerig word. Dit is aangesien daar al insidente gebeur het, waar leerders raakgery is omdat motoriste nie spoed op die pad verminder nie.
“Daardie stopteken moes nooit verwyder word nie en vandat die stopteken verwyder is, het HTS Potchefstroom my gereeld versoeke gestuur sodat die munisipaliteit die stopteken weer kan terugsit.”
Volgens Van Onselen help die stopteken om motoriste se spoed op die pad te verminder sodat hulle teen ‘n stadiger spoed die voetoorgang kan bereik.
“Die motoriste en vragmotors jaag verskriklik op MC Roode. Die gebrek aan ‘n stopteken het dit ook moeilik gemaak vir motoriste wat regs of links draai in MC Roode in vanaf HTS se skoolingang,” noem sy.
Van Februarie 2021 het die skool twee ongelukke gerapporteer en in Mei 2022 het nog ‘n ongeluk daar plaasgevind.
“Kinders se veiligheid is absoluut krities,” noem Van Onselen.
Mnr. Dries de Beer, skoolhoof van HTS Potchefstroom, noem dat die verkeersdepartement met hom ook hierdie week sal vergader rondom spoedwalle wat ook aangebring kan word.
“Motoriste is meer bewus nou om spoed te verminder vandat die stoptekens terug is. Dit is ook nie net die motoriste wat te vinnig jaag nie, maar van die leerders kyk ook nie altyd as hulle die pad oorsteek nie. As skool doen ons ook ons bes om die kinders in te lig om veiliger te wees,” voer De Beer verder aan.
Hy noem ook dat dit moeilik sal wees vir taxi’s om by die skoolhek in te ry aangesien dit net breed genoeg is vir eenrigtingverkeer. Daar is ook ‘n kwessie van veiligheid met taxi’s wat ook nie by spoedlimiet binne die skoolgronde in die verlede gehou het nie.
“Ons kan kyk om dalk die heining ‘n taxilengte dieper te skuif sodat die taxi’s net aan een kant die kinders kan aflaai. Dan is daar ekstra spasie vir die taxi’s om te parkeer. Sodoende hoef hulle dan nie aan die teenoorgestelde kant van die pad te stop nie.”
Die munisipaliteit het verlede week die stoptekens teruggesit en sedertien was daar nog nie enige verdere insidente nie.