DA se dinamiese jong trio vat die leisels in J.B. Marks
Jóhni Steenkamp is as die nuwe DA koukusleier in die JB Marks Munisipaliteit verkies. Haar twee regterhande vir die nuwe posisie is Werner van Onselen (koukussweep) en Rethabile Dube (koukusvoorsitter).
Die DA in die J.B. Marks Munisipaliteit het hierdie week ‘n splinternuwe jong koukusgroep verkies.
Jóhni Steenkamp is as die nuwe koukusleier verkies en neem by Hans-Jurie Moolman oor. Haar twee regterhande vir die nuwe posisie is Werner van Onselen (koukussweep) en Rethabile Dube (koukusvoorsitter).
Steenkamp is op 35 een van die jongste koukusleiers in die party en tesame met Van Onselen (35) en Dube (26) is hierdie ‘n jong en dinamiese span wat daarna streef om ‘n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.
Die koukusleier-posisie is ‘n verkiesbare posisie.
Kollegas nomineer en sekondeer ‘n kandidaat van hul keuse, wat dan aan die DA provinsiale kantoor gestuur word. Dan word daar ‘n formele verkiesing gehou met ‘n voorsittende beampte wat die verkiesing hanteer.
Steenkamp, wat al vier 13 jaar ‘n politieke pad saam die DA stap, noem dat dit vir haar ‘n groot voorreg is om veral met dade te lei om haar visie saam met mense te kan bereik.
“Dit is nou my groot voorreg en ook verantwoordelikheid om hierdie groep sterk, dinamiese en diverse individue te mag lei. My leierskapstyl is definitief baie anders as waaraan mense dalk gewoond mag wees.
“Ek glo ’n goeie leier is iemand wat die kapasiteit en die vermoë het om mense te motiveer en te inspireer. ‘n Ware leier, in my opinie, is iemand wat mense saam met haar vat en nie net die pad aanwys nie,” meen sy.
Haar doelwitte is om lede van haar koukus te motiveer en te inspireer om elke dag beter weergawes van hulself te wees en sodoende saam te groei.

“Ek glo dat persoonlike groei baie belangrik is in my persoonlike lewe, maar ook op ’n professionele vlak. Dit is wat my doelwit is met hierdie nuwe avontuur. Ek wil lede van my koukus motiveer en inspireer om die beste leiers moontlik vir hulle gemeenskappe te wees.”
Steenkamp beskryf haarself as iemand wat baie passievol oor haar doelwitte is en nie bang is om dit so oor te dra nie. Haar mede koukuslede, Van Onselen en Dube, vul haar aan en is ook eerlik met haar as hulle meningsverskille het.
“Ons ken mekaar al lank en weet min of meer hoe die ander een dink. Die feit dat ons jonk en energiek is en dieselfde visie deel, is wat ons span ekstra goed laat werk. Ons vertrou mekaar en in moeilike situasies bou ons op mekaar se idees en oplossings. Ons al drie is doeners, ons neem aksie en skram nie weg van uitdagings nie,” verduidelik Steenkamp.
Natuurlik is een groot fokuspunt vir Steenkamp-hulle om dienslewering te verbeter, sowel as om geleenthede vir ekonomiese groei in die munisipaliteit te skep.
“Dienslewering is ‘n groot kopseer en ons veg kliphard om dit te verbeter in die opposisie banke. Op plaaslike regeringsvlak is dienslewering die basiese fondasie, ‘n grondwetlike reg vir alle Suid-Afrikaners. Ongelukkig het dit ‘n voorreg geword in Suid- Afrika en dit sluit J.B. Marks in. Die DA se fokus is om basiese dienslewering te prioritiseer. Ons wil J.B. Marks ‘n plek maak waar vryheid, regverdigheid, geleenthede en diversiteit seëvier.”




