Huis Eikelaan se Tannie Elsie vier 100ste verjaarsdag
Tannie Elsie Kok was verstom toe sy haar familie, vriendinne, en ander inwoners van Huis Eikelaan in die mooi versierde saal sien.
“Dit is so spesiaal dat julle almal hier is,” was die woorde van dankbaarheid en verbasing uit die mond van Tannie Elsie Kok, toe Huis Eikelaan ‘n spesiale 100ste verjaarsdagpatytjie vir haar vanoggend (Vrydag, 7 Julie) gehou het.

Tannie Elsie was verstom toe sy haar familie, vriendinne, en ander inwoners van Huis Eikelaan in die mooi versierde saal sien.
“Kyk net al die balonne. Julle het die winkels leeg gekoop,” het Tannie Elsie gegrap toe sy die 148 balonne sien wat die vertrek in ‘n pienk paleis omskep het.
Paleis is die regte word, want om 100 jaar te bereik is ‘n mylpaal wat beslis gevier moet word, nes mens vir ‘n koningin sou doen.
Video: Wouter Pienaar
Tannie Elsie is ook met ‘n spesiale verjaarsdagkoek vanaf Turkstra Bakkery, presente en die teenwoordigheid van haar familie bederf – iets wat haar oë so effens vogtig gemaak het.
“Dit is regtig wonderlik – toe ek vyf was het ek baie spesiale vriendinne gemaak en vriendskap ervaar. Nou is ek bevoorreg dat julle almal hier my vriende is en saam met my vier,” het sy genoem.
‘n Seëngebed is ook oor Tannie Elsie gesing om dankie te sê vir die Here se genade in haar lewe en haar volgehoue gesondheid.
Hierdie sprankelende dame verjaar amptelik op 9 Julie 2023 en hierdie naweek gaan beslis een vir die boeke wees, as dit alreeds op so prettige en spesiale wyse begin het.
Izelle Kruger, maatskaplike werker by Huis Eikelaan, was verantwoordelik vir die reëlings.
Tilla le Roux, die bestuurder van Huis Eikelaan het ook genoem dat hul bevoorreg is om ‘n inwoner en mens soos Tannie Elsie in hul midde te hê.
“Dankie vir tannie se liefde. Die glimlagte wat ons daagliks kry. Tannie is ‘n regte dame en ‘n voorbeeld vir ons elkeen. Alles vir die beste en alles van die mooiste vir die toekoms. Van Huis Eikelaan se kant af sê ons baie geluk,” noem Le Roux.















