Rioollek herstel na ondraaglike stank in woonkompleks
Inwoners het gesukkel om net van hul huise na hul motors te stap sonder om in die riool hoef te trap
‘n Rioollek by die Villa Avianto woonkompleks in Paryslaan het inwoners vir ‘n geruime tyd met ‘n groot stank en veiligheidsrisiko gelos.
Inwoners het gesukkel om net van hul huise na hul motors te stap sonder om in die riool hoef te trap. Na DA wyksraadslid in wyk 24, Jeanne Adriaanse, dit telkemale onder die aandag van die munisipaliteit en die munisipale bestuurder gebring het, is die lek verlede week uiteindelik herstel. Kalk is ook gestrooi om weer die geaffekteerde area te herstel.
“Dit is uiters onhigiënies en gevaarlik dat rioolstortings so gereeld plaasvind. Die riool lek dan ook in die spruite van die Mooirivier in en beïnvloed die drinkwater van beeste. Verskeie siektes kan ook uitbroei,” het sy genoem.
Op hierdie stadium is dit belangrik dat onderhoud gereeld uitgevoer word sodat die rioolsituasie nie weer problematies word nie.
Munisipale woordvoerder, Jeanette Tshite, het bevestig dat die rioollek deur ‘n algemene blokkasie veroorsaak is en dat dit herstel is.







