Local newsNewsNews

Model en danser wys dat skoonheid van binne en buite kom

Die 13-jarige Grace-Mékayla Groenewald, 'n graad-8 leerder van Potchefstroom Gimnasium, het 'n onblusbare passie vir modelwerk en dans.

Modelwerk was nog altyd deel van Grace-Mékayla Groenewald (13) se lewe al van kleins af. Wanneer ander kleuters in swembadwater baljaar het, het sy een stap verder gegaan en op vyf-jarige ouderdom aan ‘n swemmodel-kompetisie deelgeneem.

“Ek was omtrent vier of vyf jaar oud toe ek begin modelwerk begin doen het,” sê Groenewald.

Die trotse Potch Gimmie-leerder het deelgeneem aan ‘n swembad-model kompetisie, waarna sy ‘n liefde vir modelwerk ontdek het. “Ons was by Dikololo en daar was ‘n swembad kompetisie. My pa het vir my gesê ‘Hoekom probeer jy dit nie?’ so toe probeer ek dit. Ek dink ek het tweede plek gekry. Dit was baie lekker om vir mense te wys wie ek is.”

Grace-Mékayla met haar gunsteling kroon en gunsteling danstrofee. Foto: Cornelia Hitge

Groenewald se eerste groot kompetisie het by Dan Tloome-stadsaal plaasgevind. “Dis baie lekker om vir mense te wys dit gaan nie net oor ‘make up’ en ‘opdress’ nie,” sê Groenewald. “Dit gaan oor jouself express, jouself wees.”

Op sesjarige ouderdom het Groenewald begin dans. “Ek doen alle tipe dans,” lag sy. “Ek doen jazz, contemporary, alles. Ek het eers gedans vir lekker, en toe gaan ek na Aldanté dansskool toe. Ek het toe vir kompetisie begin dans.”

Belinda van Tonder, eienaar van Aldanté Dansskool, asook Annequin Modelskool, is haar grootste inspirasie.

“Belinda van Tonder, sy is self ‘n model, en sy dans ook. Sy motiveer my om deel te neem aan kompetisies,” sê Groenewald. “Belinda is my grootste rolmodel. Cay-deane Kruger wat saam met my in die dansskool is kan amazing tricks doen, ek wil soos sy word.”

Van Tonder help Groenewald ook met haar projek.

“My projek se naam is Angels Project,” vertel Groenewald.

“Omtrent 5 maande terug was ons oppad na ‘n modelkompetisie. Ek het baie mense gesien wat klere kort. Ek het toe besluit om vir die mense klere te begin insamel. Enige iets wat jy nie gebruik nie eintlik, klere, kombuisgoed, skoene; ek samel dit in en skenk dit vir mense. Ons gaan na plekke toe en deel dit vir mense uit. Belinda help my daarmee.”

Groenewald is tans besig met Miss Teen South Africa 2023.

“Belinda het my aangemoedig om deel te neem,” sê sy. “By ‘n vorige kompetisie het ‘n beoordelaar met my ‘n onderhoud gevoer en my gevra hoekom ek nie Miss Teen doen nie. ‘n Hele paar mense het my dit al gevra. Toe besluit ek, kom ek doen dit!”

“My eerste groot wen was Miss Nations 2019,” sê Grace glimlaggend. “Ek sou Brasilië toe gegaan het, en toe is dit Covid-19.”

Die mees onlangse kompetisie waar Groenewald deelgeneem het, was die Noordwes uitdunne vir die SA Kampioenskappe. Dis hier waar die beoordelaar haar genader het rakende die Miss Teen kompetisie. ”Ek is deur die semi’s vir Miss Teen, ek is nou in die finaal,” vertel Groenewald opgewonde.

“Die gevoel van ‘n titel kry, en ook om deur titels op ‘n groter platform te kry om mense te help motiveer my om aan te hou,” sê Groenewald. “My dansjuffrou (Belinda Van Tonder) help my altyd wanneer ek voel ek raak te meog om aan te hou.”

Grace-Mékayla tydens ‘n fotosessie vir Sacopa Beyond. Foto: Picture Cafe.

“Om in rokke te loop,” is Grace se gunsteling deel van modelwerk. “Mens leer meer van jouself deur onderhoude, ek hou daarvan ook,” glimlag sy skaam.

Groenewald sê dat modelwerk ‘n positiewe en negatiewe impak op jou selfvertroue kan hê. “Baie kompetisies judge net oor hoe jy lyk of oor hoe jy gebou is, dit kan mens se selfvertroue baie aanraak.

“Beoordelaars tydens onderhoude sal op fisiese aspekte kritiek lewer oor hoekom jy nie wen nie. Dis hoekom ‘n regte afrigter so belangrik is. Die regte afrigter sal jou selfvertoue verbeter.”

Loopplank?

“Ek wil graag runway doen, maar runway gaan baie oor bene. Mense sal sommer sê ‘Check daai girl se bene’ en vir niks anders kyk nie.”

Vir Groenewald gaan dit nie daaroor nie.

“Dit gaan oor hoe mens die styl kan aanpas om by jou te pas, of hoe mens loop. Nie net hoe jy lyk en gebou is nie.”

Behalwe vir modelwerk en dans, speel Grace ook hokkie. “Ek’t hierdie jaar dit begin doen en ek’t besef ‘O dis eintlik lekker’.”

Wanneer Groenewald ‘n breuk vat en wil ontspan luister sy graag musiek en kuier saam haar vriendinne.

“Maar meestal musiek. Musiek help my baie. My pa is baie Old School, so ek het grootgeword op musiek soos Dolly Parton. Sy is op die oomblik my gunsteling kunstenaar.”

Top Gun is haar gunsteling film, “My pa hou baie van oorlogstories, ek’t grootgeword met dit,” sê Groenewald.

“Tom Cruise is ‘n goeie akteur, maar as ek ‘n gunsteling akteur kies, sal dit The Rock of Kevin Hart wees. Ek hou baie van komedies.”

Groenewald lees tans die Snoopy reeks. “Ek like comics, ek’s nie rerig ‘n boekpersoon nie. Dog Diaries of Timmy Failure is van my gunstelinge,” lag sy.

Enige spesiale truuks?

“O my rug vou nie reg nie,” sê Groenewald, en lag. “Ek kan heeltemal agteroor vou.”

Grace-Mékayla se leuse is “Moet nooit opgee op jou drome nie.”

As ‘n model wat tans 1,4 meter lank is, leef sy werklik haar leuse uit. Die gemiddelde lengte vir modelle is 1,75 meter, maar sy laat haar nie deur dit afskrik deur nie.

“Hopelik groei ek nog. Maar as ek nie doen nie is dit ook okay. Ek voel ek wil die boodskap daar buite sit dat jy nie iemand moet wees wie jy nie is nie,” sê Groenewald. “En moet nooit opgee op jou drome nie.”

Groenewald was in Laerskool Bailliepark en was deel van die Totius Voortrekkers.

“Sy moes ophou daarmee, want daar was net nie meer tyd vir alles nie,” sê Marnell Groenewald, Grace se ma. “Ek mis dit nogal baie,” sê Grace nadenkend, “maar daar is nie tyd vir alles nie.”

Marnell beskryf haar dogter as nederig en gegrond.

“Sy is ‘n boskind,” sê haar ma met ‘n nostalgiese uitdrukking in haar gesig. “Wanneer sy van die verhoog afklim is sy net Grace.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button