Waterlek uiteindelik in Walter Sisululaan herstel
Hierdie waterlek het ook besighede soos Sparkling Carwash geaffekteer aangesien hulle doeltreffende waterdruk nodig het.
Die twee maande-oue waterlek wat besighede in Walter Sisululaan ondergekry het, is uiteindelik op Vrydag, 11 Augustus herstel.
Die waterlek was oorspronklik by Die Gereformeerde Kerk Sentraal, waarna die water in Walter Sisululaan afgestroom het.
Heinricha Hodgson, wyksraadslid van Wyk 5, het genoem dat Sparkling Carwash waterdruk nodig het om te kan funksioneer. Met die waterlek kon die besigheid nie behoorlik funksioneer nie.
Louize Hattingh, eienaar van Sparkling Carwash, is baie verlig.
“Ek het oor die twee maande wat die lek plaasgevind het die JB Marks Munisipaliteit verskeie kere by verskeie departemente gekontak,” sê Hattingh.
“Die munisipaliteit gee klomp nommers om te bel as goed fout gaan, maar meeste van die nommers werk nie. Ek het die munisipaliteit 24 keer gekontak in die twee maande voor die lek uiteindelik herstel is. Ek het ook op verskeie groepe op Facebook geplaas.”
Pieter Bouwsema, ‘n lid van Gereformeerde Kerk Sentraal, het ook die lek by die munisipaliteit gerapporteer en gevra dat die lek herstel moet word.
Heinricha Hodgson, wyksraadslid van wyk 5, en Bertus le Roux, wyksraadslid van wyk 25, het beide JB Marks Munisipaliteit gekontak in verband met die lek.
“Die meeste waterlekke is weens swak instandhouding en ouderdom,” sê Le Roux. “Daardie omgewing se pype kan maklik 70 jaar en ouer wees.”
Teen druktyd het die JB Marks Munisipaliteit nog nie op die Herald se navrae terugvoer gegee nie.



