SA Rugby stel nuwe ouderdomsreëls vir kontakrugby voor
SA Rugby beoog om die ouderdom vir eerste kontak na die tweede helfte van o.8 te verskuif, met veiligheid as hoofrede.
SA Rugby het voorstelle gemaak om die ouderdom waarop spelers mag kontak maak, te verhoog na die tweede helfte van die spelers se o.8 jaar.
Sekere Unies in Suid Afrika volg reeds die model, maar die nuwe voorstelle van wil dit by alle unies in werking stel.
Volgens ‘n woordvoerder van SA rugby, moet die finale besluit oor die voorgestelde veranderinge nog by ‘n vergadering van SA Rugby se uitvoerende komitee aanvaar word waarna dit by ‘n algemene jaar vergadering bekragting sal word.
“Spelers wat o.8 is, moet aan ‘n gestruktureerde en gestandaardiseerde program bekendgestel word wat die speler geleidelik aan kontak blootstel. Hierdie program sal daarop gemik wees om die speler kontakgereed te kry sodat hulle kontak- en duikslagrugby in o.9 kan speel. Die spelers sal in die tweede helfte van die rugbyseisoen aan hierdie program bekendgestel word, benewens die nie-kontakweergawe van die spel waaraan hulle deelneem. Dit is om te verseker dat dit te alle tye pret bly,” lees die verslag van SA Rugby oor die kwessie.
“Die noodsaaklikheid van kinderveiligheid is die konteks vir hierdie voorgestelde verandering, aangesien daar wetenskaplike bewyse is dat ‘n kind van agt jaar nog nie die fisiese en geestelike vaardighede bemeester het wat nodig is om veilig byvoorbeeld duikslae uit te voer nie,” het die woordvoerder van SA Rugby verduidelik.
As alle voorstelle aanvaar word sal die nuwe prosedures van 2026 af geld. Daar is ander voorstelle ook wat aanvaar moet word onder andere dat afrigters wat by laerskole afrig, Wereld Rugby vlak een afrigtingskwalifikasies moet hê, en ook al die aanlyn kursusse voltooi het.
Volgens Dr. Retief Broodryk, ‘n dosent van sport afrigting by die NWU, is dit ‘n stap in die regte rigting in terme van speler veiligheid.
“Ek sien uit daarna om te sien hoe afrigters ook op ‘n praktiese wyse toegerus gaan wees om die voorgestelde veranderinge te hanteer,” het hy verduidelik.
Volgens hom, word Suid Afrikaanse spelers selfs met die voorgestelde veranderinge, baie jonger aan kontak blootgestel as die res van die wereld.
“In ander lande, begin hulle eers met kontak op 11 jarige ouderdom. Die navorsing wys egter dat beserings baie minder is hoe jonger kinders is. Ek verstaan dat mense dalk omgekrap is oor die voorstelle veral hier in Luiperds kontrei waar die spelers reeds op o.8 begin kontak maak. By ander unies is die spelers selfs jonger,” het hy gesê.
Eugene Fourie, hoof uitvoerende beampte van die Luiperds, het by navraag verduidelik dat die reel reeds sedert 2021 by die Luiperds geld. Fourie het ook onlangs ‘n skrywe aan laerskole gerig waarin die beleid waarop die Luiperds besluit het herhaal is.
“Geen speler mag kontak maak as hy O/7 is nie. Hierdie ouderdom is geensins onderhandelbaar nie
en sal ook nie in die toekoms wees nie. Dit geld vir die hele jaar. Die O/8’s mag wel kontak maak begin Julie. Die seuns moet wel eers ‘n kursus (aangebied deur hul afrigters) voltooi, wat hul leer hoe om te duik. Die seuns kan dan as hul die kursus voltooi het begin met kontakrugby. Geen instansie mag ‘n toernooi aanbied of toelaat dat O/7’s duik nie en O/8 toernooie mag eers plaasvind na die induksiekursus wat in Junie plaasgevind het. Indien u hierdie reëls oortree sal daar ernstig opgetree word deur die Luiperds Rugby Unie. Die Laerskole Rugby Vereniging asook die Luiperds Rugby Unie sal geen verantwoordelikheid dra as hierdie reël nie toegepas word nie. Moontlike skorsing uit rugby strukture kan volg vir enige persoon of instansie wat hom hieraan skuldig maak. Ons vra almal se samewerking in
die verband en glo dat dit baie duidelik aan u gestel is,” lees die skrywe.
“Ons het die besluit al in 2021 gemaak, om spelers vir langer by die spel betrokke te hou. Die taakspan wat deur SA Rugby bymekaar gesit is, het al ‘n jaar lank navorsing hieroor gedoen, so dit is nie ‘n lukraak proses gewees nie,” het Fourie verduidelik.
Ten spyte van die Luiperds se besluit, het skole steeds met o.8 spanne gespeel. Kleiner skole wat nie genoeg spelers vir hulle o.9 spanne het nie, het o.8 spelers gebruik om die spanne vol te maak. Die verskynsel het daartoe gelei dat groter skole begin o.8 spanne bymekaar gemaak het, en dan teen mekaar kragte gemeet het.
Daar sal glo 18, o.9 spanne in die Noordwes wees wat nie sal kan speel indien SA Rugby se voorstelle aanvaar word nie.
Die vergadering wat hieroor moet besluit sal moontlik teen die einde Oktober afgelê word wanneer meer duidelikheid hieroor gekry sal word.



