Liggaam met steekwond in middestad gevind
Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
Die liggaam van ‘n onbekende man is Dinsdagoggend, 14 April, op die hoek van Nelson Mandela- en Walter Sisululaan gevind.
Die insident is omstreeks 06:00 aangemeld. Kort daarna was alle owerhede op die toneel.
Noordwes polisiewoordvoerder, kaptein Majang Skalkie, bevestig dat ‘n moordsaak ondersoek word. Sy het ook genoem dat die oorledene ’n steekwond aan sy nek opgedoen het. Hy was ten tyde van die voorval in ’n groen hemp, blou broek en rooi-en-swart tekkies geklee.


“Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie en die motief vir die aanval is in hierdie stadium onbekend. Die ondersoek duur voort,” het Skalkie gesê.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting rakende die voorval om speurderbevelvoerder kolonel Bekker by 082 443 8806 te skakel.



