Local newsNewsNews

Tragiese ongeluk eis borrelende 18-jarige

Charlize Botha, ’n oudleerling van Hoërskool Fochville, is in die vroeë oggendure van Saterdag 11 April in ’n motorongeluk in Thabo Mbeki-rylaan in Potchefstroom oorlede.

Dit voel vir Stephan Botha nog onwerklik om sy dogter te moet begrawe.

Charlize Botha (18), ’n oudleerling van Hoërskool Fochville, is in die vroeë oggendure van Saterdag 11 April in ’n motorongeluk in Thabo Mbeki-rylaan in Potchefstroom oorlede.

Sy was ’n passasier in ’n voertuig wat omstreeks 02:30 teen ’n boom gebots het. Sy is op slag dood, terwyl die 19-jarige bestuurder en drie ander insittendes ernstig beseer is en steeds behandeling ontvang.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Volgens Kolonel Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, is die presiese oorsaak van die ongeluk nog onbekend.

Sy het elke vertrek waarin sy ingestap het, opgehelder.

Charlize of “Flopsie”, soos haar familie haar liefdevol genoem het, het slegs twee weke gelede na Potchefstroom verhuis nadat sy ’n werksgeleentheid aanvaar het. Sy was opgewonde oor haar toekoms en het groot drome gekoester om eendag ’n loopbaan in die sakewêreld te bou.

Haar ma, Chantel, en haar ouer sussie, Chanté (21), onthou haar as ’n jong vrou wat lewe in elke vertrek ingebring het.

“Sy het ’n aansteeklike laggie gehad. Sy het elke vertrek waarin sy ingestap het, opgehelder,” vertel Stephan. “Mense kon nie help om na haar te kyk nie, sy het koppe laat draai. Maar vir my was sy nie net mooi van buite nie… sy was beeldskoon van binne.”

Haar bynaam onder vriende, “Rissiepit”, het haar gees perfek opgesom, klein, maar vol vuur en karakter.

“Sy was ’n ‘problem solver’,” sê haar pa. “Sy wou altyd help. Sy het vir almal omgegee en altyd aangebied om by te staan waar sy kon. Ek het deur sosiale media gegaan en was verstom oor hoeveel mense se lewens sy geraak het, mense wat ek nie eens geken het nie.”

Hoërskool Fochville se hoof, mev. Erna Nortje, beskryf Charlize as ’n pragtige, borrelende en positiewe leerder wat ’n verskil in ander se lewens gemaak het en altyd bereid was om te help.

Die laaste keer wat haar familie met haar gepraat het, was omstreeks 01:30 die oggend van die ongeluk, toe sy laat weet het sy is nog by Impala, ’n kuierplek in Potchefstroom. Net ure later het hul wêreld onherroeplik verander.

“Ons het die oggend vroeg gery Potchefstroom toe,” vertel Stephan. “Toe ons sien haar bed is nog nie opgemaak nie, het ons geweet iets is verkeerd.”

Hulle het die provinsiale hospitaal gebel en was verlig om te hoor sy was nie daar nie. Daarna het hulle haar as vermis by die polisie aangemeld.

Kort daarna het ‘n vriend gebel en die gesin ingelig daar was ‘n berig op die Potchefstroom Herald se blad van ‘n ongeluk geplaas. Kort daarna het polisie die familie gekontak en van die insident ingelig.

Chantel, Charlize se ma, haar ouer sussie, Chanté, Charlize en Stepan, haar pa.

Ten spyte van hul pyn dra die Botha-gesin geen wrok nie.

“Ons verkwalik nie die jong man wat bestuur het nie,” sê Stephan.

“Ons bid dat hy sal oorleef en nog ’n blink toekoms voor hom het.”

Charlize se liefde vir die lewe het verder gestrek as haar naaste kring. Sy was betrokke by Matriekbaai as ’n ambassadeur en het met oorgawe gehelp met kaartjieverkope. Sy het dit geniet om saam met vriende uit te gaan, veral na vertonings soos Droomland, altyd op soek na vreugde, altyd omring deur mense.

Maar bowenal was sy, volgens haar pa, ’n mens met ’n diep liefde vir die Here, haar familie en haar vriende.

Nou kies haar familie om nie net te rou nie, maar om te vier.

“Ons wil nie hê dit moet ’n hartseer gedoente wees nie,” sê Stephan. “Ons wil haar lewe vier. Haar lig. Haar energie. Die mooi wat sy was. Ons wil haar eer.”

’n “Light celebration” ter ere van Charlize sal Vrydag 17 April om 14:00 by Siloam Gemeente in Adastraat, Carletonville.

Want selfs in die donkerste oomblikke, bly daar lig.

En Charlize,  Flopsie, Rissiepit, se lig sal nog lank skyn in elke hart wat sy aangeraak het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button