Boks was een van oud-Gimmie se passies
Richard, wat bekend was vir sy vrolikheid en groot vriendekring, is verlede Vrydag, 10 April, in ’n motorongeluk in Potchefstroom oorlede.
Sy vrolikheid en grappies is wat mense na Richard “Smokey” Bostander (34) aangetrek het. Dit is juis hierdie opgewektheid wat sy familie en vriende die meeste sal mis.
Richard is verlede Vrydag, 10 April, in ’n motorongeluk in Potchefstroom oorlede. Die ongeluk het op die hoek van Louis le Grange-laan (R53) en Meyerstraat plaasgevind.
Richard, wat in 2010 aan Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer het, was die afgelope paar jaar werksaam by die weermagbasis se bakkery, waar hy allerlei lekkernye gebak het. Hy is ook ’n oudleerder van Laerskool Mooirivier.

Hy was voorheen ook bekend as ’n uitstekende bokser wat SA- en provinsiale titels behaal het. Hy het nie die konvensionele skolesporte beoefen nie en het ook op skool in ’n dansgroep gedans.
Sy pa, Bollie Bostander, wat al dekades in die weermag is, het hom aan boks bekendgestel, en van daar af was dit een van sy groot passies. Richard het sy grootste sukses in die vlieggewigkategorie behaal.
“Hy het al begin boks toe hy ses was en baie titels gewen,” vertel sy pa. Jan Nieuwoudt het hom ook afgerig.
“Hy was lief vir sy vriende, wat ’n groot verskeidenheid mense ingesluit het. Sy vriende was ook baie lief vir hom.”

Sy familie noem ook dat hy ná skool die bynaam “Smokey” gekry het en dat almal na aan hom hom so geken het – met ’n glimlag en ’n oop hart vir sy medemens.
Hy laat sy ouers, sibbe en jong seun agter. Richard was nie getroud ten tyde van sy afsterwe nie.
Richard se begrafnis sal op Saterdag, 18 April, by die Eerste Vestingkerk op die Potchefstroom Weermagbasis plaasvind. ’n Tyd is nog nie teen druktyd bevestig nie.



