Ventersdorpers slaan hande aan die ploeg om dorp op te knap
Inwoners het reeds vroegoggend opgedaag en gehelp met skraap-, skoonmaak- en herstelwerk.
Inwoners van Ventersdorp het Saterdag, 8 Augustus gewys wat bereik kan word wanneer ’n gemeenskap saamstaan, met ’n groot skoonmaak- en slaggatprojek wat inwoners, die sakekamer en ander betrokkenes saamgebring het.
Die Ventersdorp Sakekamer het saam met lede van die gemeenskap hande gevat om die dorp op te knap en aandag te gee aan onder meer slaggate en vuil areas.
Volgens Retha Heymans van die Ventersdorp Sakekamer het inwoners hul tyd, energie en hulpbronne ingespan om ’n verskil te maak.
“Ons het dalk nie alles in een dag reggemaak nie, maar ons het beslis ’n groot verskil gemaak, nie net aan ons dorp nie, maar ook aan die mense wat hier woon,” het Heymans gesê.
Altesaam 350 sakkies teer is tydens die projek gebruik om slaggate aan te pak.
Inwoners het reeds vroegoggend opgedaag en gehelp met skraap-, skoonmaak- en herstelwerk. Volgens Heymans was dit veral die bereidwilligheid van mense om hande vuil te maak en saam te werk wat die dag ’n sukses gemaak het.
“Dit is besonders om te sien hoe mense hul tyd, energie en hulpbronne gee sonder om iets terug te verwag. Dit is gemeenskap. Dit is omgee. Dit is Ventersdorp,” het sy gesê.
Die Sakekamer het elke persoon wat ’n bydrae gelewer het, bedank en beklemtoon dat selfs klein bydraes ’n groot impak kan hê.
“Wanneer ons saamstaan, kan ons ’n dorp verander,” het Heymans gesê.
Die projek is volgens haar nie die einde nie, maar eerder die begin van wat bereik kan word wanneer die gemeenskap aanhou om saam te werk.



