Local newsNewsNews

Eerste vir Alles bring huweliksdinamika terug na die Skepping

As Eva uit Adam se ribbekas kom, hoe kan hul so anders, maar tog so eenders wees? Dit is die groot vraag wat Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck in "Eerste vir Alles" probeer beantwoord.

Die Skeppingsverhaal van hoe man en vrou geskape is, is welbekend, maar het Adam en Eva mekaar ook altyd verstaan? Was daar ook misverstande tussen die eerste man en vrou, en hoe het die liefde geblom?

Dit is vrae wat Frank Opperman (Adam) en Margit Meyer-Rödenbeck (Eva) probeer beantwoord terwyl hulle besin oor die huwelik in die komedie, Eerste vir Alles, by Momentum Aardklop.

Albei gesoute akteurs speel hul rolle voortreflik, met skerp monoloë wat die gehoor laat huil van die lag. Die komedie raak dan net nog beter in die wisselwerking en tydperkgepaste dialoog tussen Adam en Eva. Opperman en Meyer-Rödenbeck se kwinkslae maak die verhouding tussen die twee karakters geloofwaardig, terwyl hul verskillende persoonlikhede telkens nuwe komiese oomblikke skep.

In die begin soek Adam ’n maat – want hy is alleen. Hy is dan uit sy vel uit as hy vir Eva sien. Uiteindelik kan hy met iemand praat en sy lewe deel. Eva is in verwondering oor Adam en alles is goed en perfek.

Van die oulikste elemente in die stuk is hoe daar gapings in die Skeppingsverhaal ingekleur word met hoe normale gesprekke tussen Adam en Eva sou wees. In plaas daarvan om na die sonsondergang te gaan kyk, gaan hulle kyk hoe die “groot geel bal” sak. Eva vra ook vir Adam hoekom hy ‘n voël “Piet-My-Vrou” genoem het. Dit is juis hierdie alledaagse benadering tot ’n verhaal wat almal ken wat Eerste vir Alles vars laat voel.

Kort voor lank begin hulle gevoelens vir mekaar ervaar. Hulle leer wat soen is (met komiese “kussingkies”) en dan begin die romantiese vonke spat.

Totdat die eerste konflik begin en Eva van die Boom van Goed en Kwaad eet.

Nou is sake anders. Adam moet vir Eva met haar eerste geboorte help. Adam verstaan nie vir Eva se hart nie en soms maak Kain en Abel net vir Adam so bietjie gek. Nou is daar 56 kinders en dit raak net een te veel – die vraag is, waar is die romanse en die liefde heen? Wat is albei se rol in mekaar se lewens?

Adam en Eva se verhouding word ’n herkenbare blik op die misverstande, verwagtinge en frustrasies wat tussen twee mense kan ontstaan, selfs wanneer hulle reeds ’n leeftyd saam deurgebring het. Adam en Eva is op ’n draaipunt en nou moet hulle besluit of hulle nog honderde jare saam met mekaar wil bly, ten spyte van hul verskille.

Eerste vir Alles tref die lagspiere op al die regte plekke, maar prikkel terselfdertyd die verbeelding deur die Genesis-verhaal vanuit ’n alledaagse en humoristiese perspektief te benader.

Volgende vertoning:

Saterdag 3 Oktober om 16:00

Met: Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck
Teks en regie: Wessel Pretorius
Stel- en kostuumontwerp: Nell van der Merwe 
Beligtingsontwerp, oorspronklike musiek en verhoogbestuur:
Wicus Louw
Vervaardiger: Arena Produksiehuis

R220 (vooraf)
R240 (by die deur)
R200 (Hartsvriende)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button