Enig in sy soort – ontmoet Marius “No One” Els
“Hallo, mooiste!” begin Marius Els (32), een van Potch se interessantste Instagram-persoonlikhede een van sy video’s voordat hy sing, liefdesraad deel en vertel hoe om 'n meisie te bederf.
In ’n wêreld waar algoritmes en die nuutste neigings op sosiale media heers, is die Potchefstroomse inhoudskepper Marius “No One” Els soos ’n vars bries met sy video’s op sosiale media.
Marius (32) het ná maande se video’s en aanhoudende aanlyn-inhoud op Instagram (meer as drie plasings per dag) omtrent onmisbaar op Potchefstroom se sosiale media-algoritme geword. Met ’n kenmerkende keps of bakhoed, sonbril, T-hemp en kortbroek is dit gewoonlik partytjietyd wanneer hy op jou foon se skerm verskyn.
Wat Marius juis so uniek maak, is dat hy nie voorgee om iemand anders te wees nie. Hy deel video’s op ’n baie rou en ongekunstelde manier met ’n selfiekamera, waarin hy dikwels in die eerste persoon met dames praat.
“Hallo, mooiste!” begin Marius een van sy video’s voordat hy liefdesraad gee, ’n bietjie meer oor Potch vertel of een van sy liedjies sing.
Waar baie inhoudskeppers eers hul video’s redigeer of bykomende elemente byvoeg, praat Marius eerder net sy hart uit. Dit het hom al heelwat aanhangers besorg, veral onder studente, wat hom gereeld raakloop en graag foto’s saam met hom wil neem.
Maar hoe het alles begin dat ’n oud-leerder van Hoërskool Die Wilge skielik in die sogenaamde “Prins van Potchefstroom” verander het?

“Ek het net besluit om video’s te begin neem en baie te begin plaas. Veral toe ek ’n nuwe foon gekry het, kon ek dit makliker doen. Mense het my net baie vinnig begin volg en my goed begin like.”
Marius is in Sasolburg gebore, maar het in Potchefstroom grootgeword. Hy was in Laerskool President Pretorius en Laerskool Hendrik Potgieter en het tot in graad 10 by Hoërskool Die Wilge skoolgegaan.
Hy is ook mal oor sport, is ’n groot Springbok-ondersteuner en geniet dit om te stap en natuurlik te dans – veral op Vrydagaande by Impala.
“Dit gaan alles oor die ritme en die gevoel van die musiek. Moenie skaam wees om te dans nie; ’n mens leer vinnig. Dit is vir my baie lekker om te sing, veral liedjies van die soort musiek waarvan ek hou. Ek leef myself graag deur musiek uit, veral liefdesliedjies,” noem hy.
Sy gunstelingmusiek sluit kunstenaars soos Van Pletzen, Danny Smoke, Spoegwolf, Irene-Louise van Wyk, Karlien van Jaarsveld en Franja du Plessis in.
“Ek geniet dit om vir mans raad te gee oor hoe hulle vroue en meisies moet behandel. Ek het nie self tans ’n meisie in my lewe nie, maar ek het besluit om hierdie video’s te begin maak omdat niemand my voorheen sulke raad gegee het nie. Dit help dalk die ouens om meisies reg te behandel.”
Volgens Marius is dit die tradisionele waardes wat tel.
“Koop vir haar blomme, vat haar na ’n vyfsterrestaurant toe en koop twee bokse sjokolade. Jy moet jou meisie goed en gewaardeer laat voel.”
Marius is ’n man met waardes. Hy het ’n goeie verhouding met sy ma en noem dat sy juis ’n belangrike grondslag in sy lewe as mens gelê het.
“Wanneer ek byvoorbeeld selfievideo’s maak en iets aan my voorkoms wil verander, vra ek haar soms vir raad. My ma is ’n baie goeie ma en sy ondersteun my altyd. My raad aan ander mense is om altyd vir hul ma’s dankie te sê. Sê vir jou ma dankie dat sy jou grootgemaak het en dat sy die goeie ma is wat sy is. Waardeer haar omdat sy jou liefhet en altyd daar vir jou is.”
‘n Plaaslike maatskappy, Brandmill, help ook vir Marius met sy inhoud en gee vir hom ‘n platvorm om sy eie unieke self verder uit te leef.
Die positiewe kommentaar en komplimente wat hy ontvang, asook die verskillende mense wat hy ontmoet, laat hom ook baie goed voel.
“Soms kry ek ook negatiewe kommentaar van mense wat nie noodwendig van my video’s hou nie, maar ek fokus eerder op die positiewe boodskappe en mooi komplimente wat ek ontvang,” noem hy.
Marius is lief vir Potchefstroom en sy mense en wil graag aanhou om mense se dag te maak. Sy groot wens is om ook hopelik binnekort ’n dame aan sy sy te hê.
“Ek wil graag iemand hê wat my aanvaar vir wie ek is. Ek hou van meisies met blonde, bruin of swart hare. Sy moet net ’n oulike meisie wees wat haarself kan wees. Sy moet my aanvaar vir wie ek is en my persoonlikheid verstaan. Ek sal altyd goed wees vir my meisie. Ek is ’n ordentlike ou en hou daarvan om ’n meisie te bederf.”
Volg vir Marius op Instagram hier: @marius.no.one.els



