Local newsNews

Facebook se vriendskapversoeke – Die sosiale eksperiment waarvoor niemand gevra het nie

Die feit dat iemand jou versoek aanvaar, beteken nie hulle het outomaties ingestem tot ’n daaglikse Messenger-onderhoud, romantiese toenadering of ’n fotosessie van jou anatomie nie.

Enigiemand wat Facebook gebruik, ken daardie geluid. Die klein kennisgewing wat jou laat weet iemand het besluit hulle wil deel wees van jou digitale bestaan.

Vir sommige mense is dit opwindend. Vir ander, veral baie vroue, veroorsaak dit eerder ’n oomblik van angs.

Want wie de hel is dit nou weer?

Die Facebook-vriendskapversoek is deesdae amper soos ’n verrassingspakkie. Jy weet nooit wat binne-in wag nie. Dalk is dit ’n ou skoolvriend, ’n voormalige kollega of iemand wat jy iewers in jou lewe ontmoet het. Maar meer dikwels is dit ene wat lyk asof hy pas van ’n branderplank afgeklim het, of ’n oorsese ryk oom met ’n verdagte belangstelling in jou bestaan.

Dan is daar natuurlik die kripto-beleggers, die liefdesswendelaars en die mans wat volgens hulle profiel toevallig ’n suksesvolle besigheid, drie luukse motors en ’n tragiese behoefte aan ’n Suid-Afrikaanse vrou se geselskap het.

Die meeste van ons ken die speletjie teen hierdie tyd. Jy ignoreer, blokkeer en gaan aan met jou lewe.

Maar dan, tussen al die verdagte profiele, verskyn daar soms iemand wat heeltemal normaal lyk. ’n Ordentlike profielfoto, ’n paar familiefoto’s, vriende, ’n werk en selfs ’n paar onskuldige plasings oor braaivleis en vakansies. Niks wat onmiddellik skree: “Ek gaan jou bankrekening leegmaak” nie.

Jy dink, ag, wat kan nou verkeerd gaan? En aanvaar die versoek.

En dan gebeur dit.

Die Messenger-boodskap.

Ek kan amper voel hoe my siel my liggaam verlaat wanneer daardie eerste boodskap inkom. Want ek weet reeds wat voorlê. Dit is óf ’n “Hallo, pragtig”, óf die immer gewilde “Hgd?” (Hoe gaan dit?) van iemand met wie ek geen vorige gesprek, belangstelling of gedeelde geskiedenis het nie.

En moenie ons eers oor die ongevraagde foto’s begin nie. Daar is sekere dinge wat ’n mens nie nodig het om te sien voordat jy jou oggendkoffie gedrink het nie. Trouens, daar is sekere dinge wat ’n mens nooit nodig het om te sien nie.

Vir mans is die ervaring dalk effens anders. Ek vermoed hulle word nie heeltemal op dieselfde manier met romantiese aanbiedinge oorval nie. Maar hulle is beslis nie immuun nie. Daardie aantreklike jong vrou met die modelagtige profielfoto kan dalk net ’n ou oompie met ’n verdagte belangstelling in jou pensioenfonds wees.

Die vraag is dus, hoe hanteer ’n mens hierdie moderne Facebook-dating-agentskap waarvoor jy nooit geregistreer het nie?

My voorstel is eenvoudig.

  • As jy iemand ken, stuur gerus ’n vriendskapversoek.
  • As jy iemand om besigheidsredes wil kontak, wil netwerk of bloot graag beter wil leer ken, stuur dalk eers ’n kort boodskap.
  • Stel jouself voor.
  • Verduidelik waarom jy kontak maak.
  • Gee die ander persoon ten minste die geleentheid om te besluit of hulle belangstel in ’n gesprek.

’n Vriendskapversoek is nie ’n toegangskaartjie tot iemand se persoonlike lewe nie. En die feit dat iemand jou versoek aanvaar, beteken nie hulle het outomaties ingestem tot ’n daaglikse Messenger-onderhoud, romantiese toenadering of ’n fotosessie van jou anatomie nie.

Facebook is immers ’n sosiale netwerk, nie ’n 24-uur-emosionele ondersteuningsentrum of ’n aanlyn vleismark nie.

En as jy wonder waarom jou vriendskapversoek geïgnoreer is: Moenie dit persoonlik opneem nie. Dalk is jy heeltemal normaal. Dalk is jou profiel net die 47ste een wat vandag vir iemand ’n verdagte ryk prins, ’n kripto-swendelaar of ’n toekomstige “Hallo, pragtig” laat vermoed het.

Ons almal het maar ons grense. Selfs op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button