Die plaaslike meestersatleet, Yolande du Toit, het die naweek van 5-7 Mei 2022, aan die Suid-Afrikaanse Meestersatletiekbyeenkoms in Pretoria deelgeneem en ‘n welverdiende goue medalje behaal.
Du Toit het goud in die 100m hekkies (35-39 ouderdomsgroep) verower in ‘n tyd van 17.21 sekondes en ook die Gautengrekord in die proses gebreek. Sy het ook ‘n silwermedalje in die 100m in ‘n tyd van 13.16 sekondes verower. Hierdie kranige atleet ontvang ook haar nasionale baadjie tydens ‘n Suid-Afrikaanse Meestersatletiekfunksie.

Du Toit noem dat hierdie goue medalje baie bloed sweet en trane oor die afgelope nege jaar gekos het.
“Ek het 9 jaar geveg vir dit met baie beserings en was dit genade van Bo. Ek’t met ‘n gekraakte rugwerwel dit behaal so dit was taai,” vertel sy.

Hierdie prestasie was die perfekte uitslag vir Du Toit wat komende seisoen in die 40-45 kategorie gaan deelneem.
“Ek is nou in n nuwe ouderdomsgroep vir vroue 40-45 en sien baie uit na die nuwe seisoen,” beklemtoon sy.



