Volkies se eerste netbalspan het Vrydagaand (27 Mei) die perfekte afskeidsgeskenk vir die legendariese Volkie-netbalafrigter, Irene Seymore, gegee toe hulle vir Gimmies in die Classic Clash met 32-22 oorwin het.
In Seymore se laaste Classic Clash wedstryd as ‘n Volkie-afrigter, het haar netbaldogters wat sy al sedert 2018 as jong graad 8’s lei, vir haar laat glimlag en ‘n traan laat pik op dieselfde tyd.
Foto’s: Wouter Pienaar
Dit was natuurlik trane van dankbaarheid, blydskap en trots met die dat Seymore ‘n oorwinning in die Eeufeesjaar kon behaal.

Opsommend het Volkies hulle kanse gebruik en ‘n skerper oog vir die doel gehad. Helouise Freeke (doel) en Volkies se kaptein, Mecaylin Kleyn (hulpdoel) het seker gemaak dat die punte instroom. Hulle het mekaar instinktief op die baan gevind en puik saamgewerk.
Charmoné du Pisani (senter) en Loulene Ferreira (aanvallende vleuel) het ook goeie wedstryde gehad terwyl die verdediging van Abigail van Niekerk en Yulanda Senekal ook bestendig was om Gimmies se aanvalle te stuit.
Gimmies en Volkies was kop-aan-kop in die eerste kwart, met Marjuzél Venter en Larise Jacobs wat ook goeie doele behaal. Volkies het wel in die tweede kwart die voortou begin neem en stelselmatig ‘n groter voorsprong begin bou. Gimmies se verdediger, Juné Roode, het ‘n goeie wedstryd agter vir Gimmies gehad en ‘n paar keer sake moeilik vir haar opponente gemaak.
Die tuisspan se spanwerk en kommunikasie op die baan was wel net een te veel vir Gimmies wat net nie die agterstand kon inhaal nie.

















