Die Luiperds se veelsydige agterlynspeler, Brandon Keevy, het weer sy talent bewys toe hy as die Luiperds se Speler van die Jaar en SA Beker-speler van die Jaar aangewys is tydens die Luiperds Rugbyunie se 2026-toekenningsfunksie.
Nog groot wenners op die aand van 26 November was die vleuel Sino Tshontyi, wat as Agterspeler van die Jaar en Spelers se Speler van die Jaar aangewys is. Die Luiperds se kaptein en haker, Jason Alexander, het met die Voorspeler van die Jaar-toekenning weggestap.

Die Luiperds se president, Mervyn Taylor, het ook sy jaarverslag tydens die geleentheid gelewer. Hy het genoem dat, hoewel hierdie jaar nie die beste jaar op die veld vir die senior Luiperds was nie, daar wel opgewondenheid oor die nuwe seisoen heers. Die voorseisoen en nuwe speleraanwinste dui volgens hom op ‘n stap in die regte rigting.

Hy het ook die Luiperds se Plattelandse-span uitgesonder vir hul voortreflike seisoen waar hul as nasionale kampioene gekroon is. Hy het genoem dat die o.20-span ook puik gevaar het en talle groter unies verras het.
GJ Steenberg was een van die nuwelinge wat by die o.20-span uitgeblink het. Hy is as die o.20-speler van die Jaar aangewys. Lara de Wet het die trofee vir die Vrouespeler van die Jaar ontvang.
Nog ‘n besonderse oomblik tydens die funksie was die oorhandiging van ‘n spesiale erepresidentstoekenning aan Johan Korff, die laaste president van Stellaland Rugby. Hierdie erkenning dra besondere gewig, aangesien Korff sy betrokkenheid by Stellaland Rugby in 1995 afgesluit het, toe SA Rugby die strukture van professionele rugby verander het en Stellaland met Wes-Transvaal saamgesmelt het.


Korff het sy opregte waardering uitgespreek en gesê dat dit vir hom ‘n groot seën is om dié eerbewys te ontvang. Hy het dit as die absolute hoogtepunt van sy rugbyloopbaan beskryf. Hy het ook ‘n spesiale Stellaland-trui aan die Luiperds oorhandig om in hul museum te bewaar.
Verskeie ander klub- en spelerstoekennings is ook tydens die geleentheid aan uitblinkers oorhandig:
Spelerstoekennings:
- Speler van die Jaar: Brandon Keevy
- SA Beker-speler van die Jaar: Brandon Keevy
- Spelers se Speler van die Jaar: Sino Tshontyi
- Agterspeler van die Jaar: Sino Tshontyi
- Voorspeler van die Jaar: Jason Alexander
- Plattelandse Distrikte-speler van die Jaar: Del La Rey Swart
- Vrouespeler van die Jaar: Lara de Wet
- o.20-speler van die Jaar (Piet Eloff-trofee): GJ Steenberg
- Nuweling van die Jaar: Babalo Makana
- Mees Verbeterde Speler van die Jaar: Godfrey Sebokolodi



