VIDEO: Baillie Park leiers praat oor PAWS-projek

Die hoofleiers van Laerskool Baillie Park het besluit om ’n verskil te maak deur ’n projek te loods om PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) te ondersteun.

Die hoofleiers van Laerskool Baillie Park het besluit om ’n verskil te maak deur ’n projek te loods om PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) te ondersteun.

Karin Middelberg, Isabel Redelinghuys, Johan Kotze en Rick Oosthuizen, hoofleiers vir die derde kwartaal, het onlangs saam met hul mede-leiers ’n besoek aan PAWS gebring.

Aangesien die hoofleiers elke kwartaal ’n projek moet loods, het hulle besluit om PAWS as hul projek te maak.

“Wie het nie ’n hart vir diere nie,” het Johan gevra. Hy is self lief vir ’n boerboel. Rick het vyf katte, drie honde, visse en hase by die huis. Isabel se hond is haar beste maatjie en Karin se gesin het twee Yorkies by die huis. Die groepie jong diereliefhebbers het nou besluit dat die diere in PAWS se hokke ook gelukkig behoort te wees.

“Dit is baie hartseer om te dink daar is so baie honde wat net daar gelos word sonder ’n verduideliking,” sê Isabel.
Die vier leiers het reeds met hul skool gepraat en selfs ’n skyfievertoning (slide show) vir die leerders gewys van al die diere wat by PAWS vir aanneming beskikbaar is. ’n Kompetisie is nou tussen die klasse geloods om te kyk watter klas die meeste kos, komberse, skoonmaakmiddels en geld vir PAWS kan insamel.

Die kompetisie sluit op 16 Augustus, waarna PAWS al die skenkings by die skool sal kom haal. Die leiers vra indien mense vanuit die gemeenskap deel wil wees van die projek, hulle skenkings na die skool kan bring.

Back to top button