VIDEO: Kinders bou Potchefstroom oor 20 jaar
’n Groepie laer- en voorskoolleerders van Potchefstroom het verlede week uiteindelik ’n Lego-stad waaraan hulle ’n hele kwartaal gewerk het, voltooi.
’n Groepie laer- en voorskoolleerders van Potchefstroom het verlede week uiteindelik ’n Lego-stad waaraan hulle ’n hele kwartaal gewerk het, voltooi.
Duisende Lego-blokkies is in drie maande gebruik om ’n interaktiewe, futuristiese uitbeelding van Potchefstroom oor 20 jaar uit te beeld.
Die leerders wat deel was van die projek het dit onder leiding van Annelie van Rooyen van Techno Kids gedoen.
Die stad, wat ’n hele eetkamertafel vol gebou is, bestaan uit verskillende konsepte. Vyftien leerders tussen graad 3 en 7 het elk ’n bydrae gehad.
Die tema van die projek was ’n groener Potchefstroom en leerders het hul verbeelding laat gaan om ’n besondere eindproduk te lewer.
Die stad bestaan uit verskillende winkels, ’n dierewinkel, woonstelle, paaie en selfs ’n rivier met bote op. Die leerders het veral gefokus op die vervoerstelsel, behuising en groen gebiede in die stad.
Volgens Van Rooyen het die kinders self die modelle gebou. Van die dele van die stad is gemotoriseer en geprogrammeer om op sekere maniere te beweeg. Die leerders doen dié kodering self.
Hulle het, wanneer iets nie beweeg of werk soos dit moes nie, veranderings en aanpassings gemaak.
Die Lego-stad bestaan uit duisende Lego-blokkies wat beide opvoedkundige en gewone Lego insluit.
By dié naskoolse program leer kinders verskeie vaardighede soos programmering, kodering, tegnologie en kreatiwiteit aan.