Geliefde praktyk sluit na 41-jaar
Na 41-jaar van mediese vernootskap, maak Dr Willie Coetzer en Dr Okkie Dipper hul deure in Randfontein toe.
Beide Dr Okkie Dipper en Dr Willie Coetzer is al vir meer as 40-jaar in die praktyk en het op 1 Julie hul praktyk, Doc Ville, in Greenhills gesluit.
Volgens Willie was die twee van hulle vir 41-jaar in vernootskap.
“Ons paadjie het saam begin toe ons ‘n praktyd in Parkstraat, Randfontein oopgemaak het,” sê Willie.
“Ons het dié voorreg met ‘n ene Dr Stead en Dr Engelbrecght gedeel,” vertel Willie.
“In 1997 het ons praktyk na Greenhills geskuif en dit is hier waar ek en Dr Dipper vir byna 16-jaar die gemeenskap bedien het.”
Willie vertel dat beide hy en Dr Dipper ‘n passie het om met mense te werk en dit was vir die twee dokters ‘n voorreg om ‘n pad saam met die Randfontein gemeenskap te loop en hulle te help met hul siektes en probleme.
Na 41-jaar saam die Randfontein gemeenskap het Dr Coetzer ‘n aanbod by MediCross in Krugersdorp aanvaar en sal nou sy pasiente daar bystaan.
Dr Okkie Dipper sal moontlik lokum werk by Robinson Privaat Hospitaal doen, waar hy spesialiste sal bystaan en help.
“Die afgelope 41-jaar was vir ons ‘n groot avontuur, maar dit is die einde van ‘n hoofstuk.
“Ons gaan beslis die gemeenskap baie mis.
“Daarom wil ek en Dr Okkie vir elke pasient dankie sê vir hul lojaliteit, geduld en ondersteuning deur die jare.
“Ons sal dit altyd koester,” vertel Willie.