Soli Deo Gloria-konsert bring vreugde op Hervormingsondag
Van jong plaaslike orreliste tot indrukwekkende orkes- en kooruitvoerings – die Soli Deo Gloria-konsert by Sionspoort het musiek gebruik om harte te verbly en konsertgangers ligter huis toe te stuur.
Die jaarlikse Hervormingsondagviering by die NHK Sionspoort-gemeente in Randfontein het op Sondag, 25 Oktober, in ’n feestelike musiekkonsert ontaard. Die Soli Deo Gloria-konsert het ’n verskeidenheid orkes-, koor- en solo-uitvoerings aangebied wat die gehoor beïndruk het.
Die gratis middagkonsert is deur die gemeente se orrelis, Rudi van Wyk, saamgestel om mense in ’n tyd van druk en spanning ’n ligter ervaring te bied.

Die Hoërskool Oos-Moot se blaasorkes, onder leiding van Andréas van der Walt, het die gehoor beïndruk met musiek uit onder meer Pirates of the Caribbean, Star Wars en Semper Fidelis.
Volgens Van Wyk was die gehoor se reaksie op laasgenoemde so entoesiasties dat dit selfs tot ’n encore gelei het.
Die WA Mozart Koor, onder leiding van Jana Barnard, het die program verder verryk met koorwerke soos Gebed deur Koos du Plessis en Lacrimosa deur Mozart.

Plaaslike talent het ook geskitter. Nelia Botha, ’n graad ses-leerder aan Laerskool Rapportryer, het Once Upon a December op die gemeente se pyporrel uitgevoer. Hesmari de Klerk, ’n leerder aan Hoërskool Monument, het ’n tjellosolo gelewer en ook saam met die orkes en koor opgetree.

Volgens Van Wyk was die konsert se doel bereik. Konsertgangers het ná afloop gesê hulle voel ligter en meer ontspanne, terwyl sommige selfs gevoel het die program was veels te kort.
Die middag is afgesluit met Somer Kersfees, geskryf deur Koos du Plessis, en die gepaste boodskap: “Soli Deo Gloria” – aan God alleen die eer.
Lees ’n meer uitgebreide artikel in die Randfontein Herald se uitgawe van 6 November.



