Skryf jou eie Afrikaanse liedjie vir Crescendo in
Skryf nou in vir die ATKV Crescendo Kreatief. Dalk is jy Suid-Afrika se volgende groot liedjieskrywer.
Die ATKV nooi amateurliedjieskrywers van alle ouderdomme om deel te neem aan vanjaar se ATKV-CrescendoKreatief.
Dié kursus word al reeds vir meer as twintig jaar deur die ATKV aangebied en groot name soos Babette Viljoen, Stephan Visagie en Christiaan Kritzinger, om maar net n paar te noem, het al aan die kompetisie deelgeneem.
Amateurliedjieskrywers kan hul nuutgeskrewe werke opgeneem op ’n CD aan die ATKV stuur.
Liedjieskrywers het vanjaar vrye teuels aangesien daar geen tema aan die kompetisie gekoppel is nie. Teen die einde van Oktober word die inskrywings beoordeel deur ’n beoordelaarspaneel onder leiding van Lize Beekman.
Die beste liedjieskrywers word dan genooi om deel te neem aan ’n ligteliedjiewerkskool by ATKV-Goudini Spa naby Worcester in die Kaap. Die weeklange werkskool, van 1 tot 6 Desember, is ’n allesomvattende praktiese kursus waartydens die skryf van musiek en liriek ontwikkel en geslyp word.
Vanjaar se kursusaanbieders is Lize Beekman, Jaconell Mouton en Douw Steyn en ‘n wye rits bekendes vanuit die Afrikaanse musiekbedryf sal ook as gassprekers optree soos in vorige jare.
Aan die einde van die werkskool word die wenliedjie aangewys uit die liedjies van die werkskooldeelnemers.
Vir meer inligting en om in te skryf, klik op die ATKV-webwerf by www.atkvprojekte.co.za en kies die CrescendoKreatief sakel of skakel Morne van Staden by 011 919 9091.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 3 Oktober.



