AGS Greenhills spog met puik sondagskool konsert
Die sondagskoolleerlinge van AGS-Greenhills gemeente vermaak die gemeente met 'n geseënde konsert.
Jaarliks doen die sondagskoolonderwysers van AGS Greenhills baie moeite om ‘n jaarafsluitingskonsert op die planke te bring en vanjaar se konsert was weereens ‘n geleentheid wat elke lid van dié gemeente vir nog lank sal onthou.
Dié konsert was tydens AGS Greenhills se erediens op 24 November opgevoer.
Volgens een van die sondagskoolonderwysers van AGS Greenhills, Claudette Jooste, het al die leerlinge baie hard geoefen om die konsert op die planke te bring.
Vanjaar se konsert het oor die geboorte van Jesus gehandel en elke leerling in dié groep het ‘n rol in die konsert vertolk. Van ‘n muis in die stal waar Jesus gebore is, tot die wyse manne en Maria was op die verhoog te sien.
Behalwe vir die pragtige manier waarop die leerlinge die verhaal vertolk het, het dié groep die gemeente met hul danstalent vermaak.
Die gemeente het die produksie terdeë geniet.
“Elkeen van ons as onderwysers by die sondagskool is baie trots op die leerlinge en bedank hulle vir hul harde werk. Aan elkeen wat betrokke was by die produksie sê ons dankie, dit was ‘n reuse sukses en weereens ‘n boodskap uit God se hand,” vertel Claudette.
Die sondagskoolkommitee van AGS Greenhills, wens elke leerling ‘n voorspoedige Kersseisoen toe en sien uit daarna om in 2014 nog ‘n suksesvolle jaar aan te pak.



