Laerskool Randfontein se hoofleiers van 2014 het tydens die Desembervakansie ‘n Leiersimposium bygewoon met die oog om hul leierskap te verbeter.
Dit het die groep leerligne gehelp om te ontwikkel in die ware, natuurlike leiers wat hulle nou is.
Die simposium is aangebied deur die ATKV en gehou by een van hul oorde – Drakensville.
Baie opgewonde het die hoofleiers Giselle Rautenbach, Ruan Nel, Michaela Moraitis, John Dawson, Melouise Mulder en Charl Meyer by die ATKV-Drakensville-oord opgedaag. Saam sowat 15 ander skole en 60 ander leiers het hul die naweek vol verwagting aangepak.
Hulle is tydens die geleentheid geleer om as ‘n span saam probleme op te los en ook om as mense met verskillende idees, saam te werk.
Volegns die skakelbeampte van Laerskool Randfontein, Annie Nolan, is elkeen van dié leerlinge uniek en verskil van mekaar, maar die manier hoe hul dinge saamdoen en saamwerk, is wat die verkil gaan maak en gaan bepaal of iets suksesvol of ‘n mislukking gaan wees.
Dié leiers is geleer dat hulle van mekaar mag verskil en hul eie opinies gee, maar dat hulle ander se idees en opinies moet respekteer.
Die hoofleiers moes ook met ‘n skets uitbeeld hoe hulle, hul skool in die jaar 2014 sien en wat hulle as hoofleiers vir die skool gaan beteken.
Daar is ‘n verskeidenheid van aktiwiteite vir die leerlinge aangebied soos Boogskiet, Foefieglybane, Vlotbou, Kettieskiet en Hindernisbane en tydens al die aktiwieteite moes hulle waarlik hul leierskap en ander vaardighede op die proef stel.
“Ons as onderwysers van Laerskool Randfontein sien uit na ‘n suksesvolle jaar saam met die hoofleiers en weet hulle gaan ‘n uitstekende groep leiers wees,” vertel Annie opgewonde.



