Jannas Pom-poms doen dit weer
Hoërskool Jan Viljoen se pom-pom-groep dra weer vanjaar die kroon as beste pom-poms tydens die Randfontein skou.
Met sterk kompetisie tydens die Randfontein Skou se jaarlikse pom-pom kompetisie, het die verdedigende kampioene, Hoërskool Jan Viljoen, hul hande vol gehad, maar het weereens die gehoor en die beoordelaars se verwagtinge oortref en sodoende vir ‘n derde agtereenvolgende jaar die kompetisie gedomineer.
Vanjaar se pom-pom kompetisie is met trots deur San Pedro Spur en Panarotti’s in Randfontein geborg en vier van die top pom-pom skole het hul merk by dié prestige geleentheid kom maak.
Die skole wat deelgeneem het was Hoërskool Riebeeckrand, Hoërskool Jan Viljoen, Hoërskool Linden en Bryanston High School.
Met twee Randfontein skole in die kompetisie, het ondersteuners van vroeg af na die Absa tent gestroom en kort voor die kompetisie begin het, was daar skaars plek vir ‘n muis in die tent.
Die kompetisie is weereens vanjaar deur Laerskool Rapportryer se pom-poms geopen en die Suid-Afrikaanse sanger Ampie het ook die gehoor met sy sangtalent kom vermaak.
Kort daarna het die verdegende kampioene, Hoërskool Jan Viljoen op die verhoog verskyn en met ‘n puik roetine die kompetisie afgeskop.
Bryanston High School en Hoërskool Linden het daarna op die verhoog verskyn en Hoërskool Riebeeckrand het die kompetisie op ‘n hoë noot afgesluit.
Die beoordelaars het hul hande vol gehad om die top drie groepe te kies.
Aangesien die kompetisie vanjaar baie sterk was, was daar slegs een persent verskil tussen elk van die top drie skole.
Met die oordonderende klank van die toeskouers wat skree en hul gunstelinge aanmoedig, het Bryanston High School die algehele derde plek verower.
Hoërskool Riebeeckrand het weereens vanjaar met ‘n baie sterk roetine ‘n algehele tweede plek behaal.
Met die hulp van koreograaf en afrigter, Mario Gomes, en ‘n puik roetine deur die verdedigende kampioene, het Hoërskool Jan Viljoen weer vanjaar vir hulself die kroon as pom-pom kampioene verseker.
Die wen groep het met ‘n R15 000 kontantprys, wat ook deur San Pedro Spur en Panarotti’s geborg is weggestap.



