Rappies pom-poms maak naam
Laerskool Rapportryer se pom-poms spog al reeds vroeg vanjaar met 'n puik toekenning.
Laerskool Rapportryer se pom-poms vier hierdie jaar hul vyfde bestaansjaar en is vanjaar vir die vierde keer genooi om by Randfontein Skou op te tree as voorskou vir die hoërskole se pom-pom kompetisie.
Volgens die skakelbeampte van Laerskool Rapportryer, Roleen Olivier, is Rappies se pom-poms tydens vanjaar se skou ook vereer.
“Dié puik groep pom-poms het tydens die skou ‘n spesiale toekenning vir uitstaande prestasie ontvang,” vertel Roleen.
Laerskool Rapportryer se pom-poms oefen al reeds vanaf Januarie en is tans besig met voorbereiding vir al hul opkomende optredes en kunstefeeste.
Dié optredes sluit die RACA kunstefees, NEA, Tshwane Youth Arts festival, D2 Drummies en vele meer in.
Laerskool Rapportryer se pom-pom-groep word deur Leandi Minnaar afgerig en Rickert Minnaar behartig al die choreografie.
“Laerskool Rapportryer is voorwaar trots om so ‘n groep uitmuntende leerlinge as deel van hul rappies-span te kan hê.
“Julle is puik. Hou aan met die goeie werk en baie geluk met jul prestasies tot dusver vanjaar,” sê Roleen.



