Hoërskool Jan Viljoen se redenaarsleerlinge is baie opgewonde oor die jaar wat voorlê en gaan beslis hul uiterste bes doen op die redenaarsfront.
Volgens ‘n verteenwoordiger van Jannas redenaars, Marthie van Deventer, het hulle reeds op 20 Februarie hul uitdunrondtes gehou en sodoende ‘n redenaarsspan aangewys.
Die span bestaan uit Jackie Viljoen, Qailah Adam, Diaandri Schoonraad, Petro Maritz, Marnus Louw, Bongi Seakhoa, Renier van Dyk, Eduan Heuer en Kyle Grootboom.
“Die groep leerlinge is tans besig om voor te berei vir die komende ATKV-Redenaarskompetisie en die kunstefeeste wat voorlê,” vertel Marthie.
Sy vertel dat die ouers ook uitgenooi is om die pragtige interne redenaarsfuksie, wat in die skoolsaal aangebied is, by te woon.
“Die wenner van die interne redenaarskompetisie was Marnus Louw en hy het ook ‘n boekprys vanaf die Biblioteek in Westonaria ontvang,” vertel Marthie.
Wimpie Kritzinger en Richard le Roux het as beoordelaars opgetree en hulself puik van hul taak gekwyt.
“Ons bedank hulle dat hulle die oomblik met ons gedeel het,” vertel Marthie.



