Jannas bied suksesvolle musiekpret aand aan
Hoërskool Jan Viljoen spog weer met 'n goed-bygewoonde Musiekpret aand as deel van hul jaarlikse fondsinsamellingsprojekte.
Hoërskool Jan Viljoen het weer op 8 Maart ‘n suksesvolle Musiekpret-aand aangebied en met talle inwoners van Randfontein wat die geleentheid bygewoon het, was pret en plesier beslis die kern van dié geleentheid.
Volgens die organiseerder van die geleentheid, Magdie de Winnaar, word die geleentheid een keer per kwartaal aangebied.
Sy vertel dat al die fondse wat op dié wyse ingesamel word, aangewend word vir vanjaar se eerstenetbalspan asook die matriekafskeid.
“Daar was tydens die geleentheid 11 tafels wat aan die musiekpret-aand deelgeneem het.
“Dit was groot pret en talle tafels het ook pryse vir kreatiwiteit en musiekkennis ontvang,” vertel Magdie.
Sy vertel verder dat die tema van die aand ‘Maskers’ was en dat al diegene teenwoordig in allerhande interesante maskers geklee was.
Die wentafel op die aand was weer Pandora’s Box en die pampoenprys is deur ‘n groep onderwysers gewen wat nie ‘n liedjie in die eindstryd kon herken nie.
“Ons almal by Hoërskool Jan Viljoen bedank elkeen wat die geleentheid bygewoon het.
“Julle elkeen het beslis tot die pret bygedra,” vertel Magdie.



