Hoërskool Riebeeckrand spog vanjaar met ‘n baie suksesvolle Beesloop en Fiesta dag.
Volgens die bemarker van Hoërskool Riebeeckrand Rickus Kruger, het dié fees op Saterdag 17 Mei op Hoërskool Riebeeckrand se sportgronde plaasgevind.
“Die dag was propvol aktiwiteite. Daar was ‘n raakrugby kompetisie, toutrek kompetisie, beesloop, bungee-trampolien, ‘n super-kar waarin mense ‘n rut kon geniet, stalletjies, vermaak; pom-poms en verksie kunstenaars het ook tydens die geleentheid opgetree,” vertel Kruger.
Hy vertel verder dat die Riebeeckrand band ook by die geleentheid opgetree het.
Hoërskool Riebeeckrand het tydens die geleentheid hulde aan dié skool se sportlegendes gebring.
Tydens vanjaar se beesloop kon feesgangers ‘n blok op die veld koop en hoop dat die bees binne in hul blok mis.
Die bees het sy merk op Natalie Erasmus se blok gemaak en Natalie het sodoende met die bees weggestap.
“Die dag het met ‘n potjiekos kompetisie afgesluit waar twee aktrises van die populêre TV-sepie Binnelanders, Desré Gardner en Quanita Adams, die beoordeelaars was,” vertel Kruger.
Hy vertel verder dat die doel van die dag was om die hele gemeenskap betrokke te kry by die fees en nuwe vriendskappe asook ‘n sterk band tussen die skool en die gemeenskap te vorm.
Hoërskool Riebeeckrand bedank elkeen wat die dag bygewoon het asook elkeen wat tot die sukses van dié spoggeleentheid bygedra het.



