Laerskool Randfontein (Ram) spog met ‘n dinamiese span personeellede onder die leiding van skoolhoof Leon Haupt.
Dié span bestaan uit 52 onderwysers, vyf kantoor personeellede, 11 studente en nege algemene werkers.
Volgens Haupt, werk die span al reeds baie goed saam, maar hy vertel dat daar altyd spasie vir verbetering is, daarom het hy besluit om vanjaar se tema by die skool ‘Ken mekaar’ te maak.
Met die doel om mekaar beter te leer ken en te verstaan, het die bestuur van Ram ‘n leker spanbousessie vir die personeel gereël.
Daar is besluit dat al die verskillende groepe tydens ‘n potjiekoskompetisie teen mekaar gaan meeding.
Die personeel het die geleenheid aangegryp om hul innerlike ‘master chef’ uit te leef.
Daar is hoender en groente verskaf, maar elke groep moes vir hul eie geheime bestanddeel gesorg het.
“Bestanddele soos biltong, spek, kaas en geheime souse is gebruik om die beoordeellaar Linda Myburg, te beindruk,” vertel Ram se skakelbeampte, Annie Nolan.
“Die kompetisie was baie sterk onder die personeellede en elke graadgroep het hul beste gelewer om as die wenkokke uit die stryd te tree.”
Op die einde van die dag het die studentegroep gewen, met die Graad 5 en Ramkriekie-personeel in die tweede plek.
Die Graad 7 personeel het ‘n algehele derde plek in die potjiekoskompetisie verower.



