Ramkriekies speel netbal by Riebeeckrand
Die kleuters van Ramkriekies geniet 'n dag van lekker netbal by Hoërskool Riebeeckrand.
Twee van Ramkriekies kleuterskool se netbalspanne het hulself gate uit geniet tydens hul besoek aan Hoërskool Riebeeckrand.
Volgens die bemarker van Hoërskool Riebeeckrand, Rickus Kruger, het dié twee kleuterspanne op Donderdag, 29 Mei by Hoërskool Riebeeckrand kom kuier en hulself op dié skool se netbalbaan geniet.
“Die kleuterspanne het tydens hul besoek aan Riebeeckrand ‘n wedstryd geniet en werklik nuwe betekenis aan die gesegde ‘klein botteltjies met groot gif’ gegee,” vertel Kruger.
Die eerste netbalspan van Riebeeckrand het die klein spelertjies aangemoedig en die vaardighede van dié kleuters het behoorlik die toeskouers se harte laat smelt.
“Haasbekkies en puik doele het die middag vir die toeskouers en Riebeeckrand se eerste netbalspan onvergeetlik gemaak.
“Die dag was ‘n reuse sukses en almal teenwoordig het elke oomblik daarvan geniet,” vertel Kruger.
Hoërskool Riebeeckrand se eerste netbalspanafrigter, Suzanne Tiedt, het dit ook goedgedink om na die wedstryd die kleuters met ‘n verrassing te bederf.



