Laerskool Randfontein (Ram) se skoolkore is onlangs uitgenooi om aan die kykNET Koorkompetisie Sing in Harmonie deel te neem.
Volgens die skakelbeampte van Laerskool Randfontein, Annie Nolan, was Ram ook die gasheer vir die glansgeleentheid.
“Die senior koor se opname was omstreeks 7.30nm Dinsdagaand 5 Augustus in ons skoolsaal en dié geleentheid was beslis ‘n hoogtepunt op elkeen van die leerlinge se jaarkalender,” vertel Nolan.
Sy vertel verder dat daar 32 skole in Gauteng gekies is om aan die kompetisie deel te neem.
Die Sing in Harmonie Koorkompetisie word aangebied deur Anthonie Bougas en sal gedurende die eerste week in September op kykNET se Musiekkanaal (146) uitgesaai word.
“Die tegniese span van kykNET het al hul toerusting in ons skoolsaal opgestel en die opname hier gedoen,” vertel Nolan.
Laerskool Randfontein het teen Laerskool Roodekrans en Laerskool Rapportryer deelgeneem. Elke skool se koor het twee liedjies gesing en is beoordeel deur ‘n span beoordelaars van buite. Laerskool Roodekrans het die eerste rondte gewen en dring deur na die finale rondte in die Mosaïek Teatro in Fairlands in Johannesburg.
Die aand is afgesluit met ‘n massakooroptrede waaraan al drie die skole deelgeneem het. Hulle het saam met Anthonie Baugas Houtkruis gesing.
“Dit was ‘n ongelooflike aand,” vertel Nolan.
Die hoof van Ram, Leon Haupt en die personeel bedank almal wat die aand moontlik gemaak het en die geleentheid saam met Ram kom geniet het.
“Die Sing in Harmonie-opname vir ons junior koor sal op Dinsdag 26 Augustus by Laerskool Pretoria-Oos plaasvind. Ons wens hulle alle sterkte toe daarmee,” vertel Nolan.



