Polisie vra saamrygeleentheid na toneel
'Die polisie het my vertel dat hulle voertuig stukkend was en dat ek hulle moes gaan haal.'
Jaco Loots is briesend kwaad vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens of soos hy dit stel, “die SAPGD; die Suid-Afrikaanse Polisie se Gebrek aan Diens.”
Op Saterdag 10 Januarie is sy motorfiets uit sy erf uit gesteel. Hy, sy vrou en twee seuntjies woon 25km buite Westonaria op ‘n plot.
“Ons het dit onmiddellik by die polisie aangemeld. Ek en my tuinwerker het die motorfiets se spoor gevolg tot by ‘n woonbuurt. Die motorfiets het ‘n pap wiel gehad en ‘n duidelike spoor gelos wat ons toe kon volg,” het Loots verduidelik.
Volgens Loots het die Westonaria-polisie nooit by hom uitgekom nie en hy moes na die stasie te gaan om die saak aan te meld.
“My tuinwerker en van sy vriende het toe die motorfiets by ‘n huis in die woonbuurt opgespoor. Ek het weer die polisie gebel en gevra hulle moet uitkom om my motorfiets by die huis te konfiskeer maar toe skielik kon hulle my nie meer help nie. Volgens die polisie is die saak aan die Lenasia Motordiefstaleenheid oorhandig,” het Loots vertel.
Na ‘n lang gesukkel het Loots toe uiteindelik die eenheid in die hande gekry en gevra dat hulle uitkom na hom toe om die motorfiets in die woonbuurt terug te kry.
“Hulle het my vertel hulle voertuig was stukkend en dat ek hulle in Lenasia moes gaan haal en weer terugneem. Wat se tipe bog is dit?” het Loots vies gevra. Intussen staan Loots se eiendom in ‘n ander man se erf en kan hy niks doen om dit terug te kry nie.
Majoor Hlongwane, Lenasia Polisie-stasiebevelvoerder is gekontak vir terugvoering oor die saak.
Hlongwane was verbaas dat die saak al van Januarie af sloer en het belowe om dit op te volg.
Hlongwane het bevestig dat as die motorfiets in Westonaria opgespoor is, dit die Westonaria-polisie se verantwoordelikheid is om die motorfiets te konfiskeer en dan na die speurafdeling by Lenasia-polisiestasie te neem.
Daarna word die saak in Lenasia gesluit en Loots kan die motorfiets daar gaan afhaal.
Die saak sal nou verder gevoer word deur kolonel Motsoeneng, die speurtakbevelvoerder wat met die saaknommer verdere ondersoek gaan instel en terugvoering aan die herald sal gee.




