Die groot dag het aangebreek! Leerders oral in Randfontein het hulle matriekuitslae sommer toe die son sy kop uitsteek op Woensdag, 5 Januarie by hul betrokke skole gaan haal.
Die eerste groep skole wat die Herald besoek het was Hoërskool Riebeeckrand, Randfontein High School (RHS) en Randfontein Secondary School (RSS) in Toekomsrus. Party was gespanne kort voordat hulle hul uitslae gekry het.

Die meeste was egter baie gelukkig met hul uitslae en het opgewonde vir die Herald van hul toekomsplanne vertel.
By Hoërskool Riebeeckrand is glasies geklink, trotse ouers het foto’s van hulle kinders geneem, en vriende en vriendinne wat saam matriek geskryf het, het drukkies uitgedeel. Uit die vieringe kon die Herald aflei dat Riebeeck se uitslae oor die algemeen goed was. Vicky du Buisson en Sasha-Lee Roestorff was die twee top presteerders.

By RHS was Jason Fischer, die onderhoof, in sy noppies en het aan die Herald vertel dat hulle weereens uitstekend gevaar het. Cantona James, die bekende dramastudent, het gesê dat hy baie bly is oor die feit dat hy ‘n beurs by Stellenbosch gekry het, waar hy drama verder gaan studeer. RHS het ‘n gesellige funksie gehou waartydens hulle die groot dag gevier het.

“Ten spyte van die opknappingswerk by die skool, het die leerders steeds top resultate gekry,” het Jason gesê.
RSS se 2016-matrieks was gelukkig en het spontaan vir die Herald van hul drome en planne vertel. Een van hulle gaan lugvaartkunde studeer en heelwat stel belang in sielkunde.

Randfontein se 2016-matrieks is reg vir die toekoms, wat lyk of dit vir almal ‘n blink een gaan wees.

Lees ook
Matric class of 2016 makes history
What to do if matric results wreck your university plans



