Elke jaar loop elke nuwe Graad 8-leerder asook nuwe leerders in ander grade en personeel van Riebeeckrand deur die skool se Poort om as ‘n volwaardige Riebeeckrander ingelyf te word.
Dié pragtige Riebeeckrand-tradisie word jaarlikse gehandhaaf. Op 3 Februarie het die hoof en die hoofleiers die Poort se hekke oopgesluit sodat die Graad 8-leerders, ander nuwe leerders en nuwe personeellede die skoolterrein deur die Poort se hekke kon binnegaan.

Vooraf tydens die vierkantopening is die vlag gehys en die erekode hardop gesê sodat die leerders trou aan die skool kon beloof. Die hoofseun en -dogter het daarna elke leerder wat deur die Poort geloop het, se skoolbaadjie vir hom of haar aangetrek. Daarna het hulle ‘n handdruk en ‘n sertifikaat van die hoof en beheerliggaam ontvang.
Die Graad 8-leerders en hul ouers sal die besondere gebeurtenis nie sommer vergeet nie. Trane het gevloei en daar is van oor tot oor geglimlag.
Aan die einde van 2021 sal dié Graad 8-leerders as matrikulante weer deur dieselfde Poort se hekke na buite stap as simbool dat hulle as volwaardige Riebeeckranders trots die wye wêreld ingestuur kan word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



