Vanoggend, 28 Maart, het Kobus en Louisa Koekemoer, die stiefpa en ma van oorlede Poppie van der Merwe, 3, weer in die Brits Landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Die staatsaanklaer, advokaat Hanna Conradie wat die saak tot dusver hanteer het, het versoek dat die moordsaak in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria verhoor moet word. Die versoek is toegestaan en die saak is vir verdere ondersoek tot 30 Oktober uitgestel wanneer dit in Pretoria hervat sal word.
Lees ook: Accused in Poppie case attempts the unthinkable

Die Herald het ook verneem dat die Staat nog klagtes kan byvoeg. Advokaat Salome Scheepers sal voortaan as staatsaanklaer optree.
Kobus Koekemoer het regshulp van die staat gekry, maar Louisa het haar eie prokureur.

Poppie is op pad na ‘n hospitaal in Brits dood nadat sy glo wreedaardig aangerand is. Kobus Koekemoer is kort na haar dood gearresteer. Christo van der Merwe, Poppie se biologiese pa en ‘n inwoner van Westonaria, het glo nog nie die hofverrigtinge bygewoon nie, maar volgens ‘n betroubare bron gaan dit goed met hom in die tragiese omstandighede.
Lees ook: Poppie at rest, but SA is outraged
Poppie se ouma en oupa, Carla en Johan van der Merwe is vandag vir die eerste keer in die hof opgemerk. Jacobus Ludick, aktivis vir die Poppie van der Merwe en Christo van der Merwe Support Group, het ook die verhoor bygewoon.
In hierdie stadium probeer Carla en Johan van der Merwe om Poppie se boetie, klein Christo in hulle sorg te laat plaas. Hy is tans in ‘n huis van veiligheid maar hy mag sy ouma en oupa elke tweede week onder toesig van ‘n sielkundige sien en ook elke naweek telefonies met hulle gesels.

Lees ook: Murdered Poppie: Father and daughter’s heartbreaking phonecall
Op 24 Januarie het die Herald berig hoe Kobus Koekemoer op 23 Januarie probeer selfmoord pleeg het terwyl hy in die tronk was . In Desember is Louisa Koekemoer (Poppie se ma) ook in verband met Poppie se dood in hegtenis geneem.

Die twee aangeklaagdes het vir die eerste keer op 25 Januarie gelyktydig in die Brits Landdroshof verskyn, waartydens Kobus om regshulp aansoek gedoen het. Die merke waar hy homself na bewering beseer het, kon duidelik op sy polse gesien word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



