Gerhard Fourie is bekend as ‘n man met ‘n plan.
Die Herald het in Julie 2015 berig oor Gerhard wat sedert geboorte verstandelik gestrem is en wat gereeld op sy fiets met die waentjie wat hy sleep in Randgate gesien is. Hy het ‘n inkomste verdien deur herwinbare materiaal te versamel wat hy by ‘n herwinningsmaatskappy in Randfontein vir kontant geruil het. Dit is hoe hy liggaam en siel aan mekaar gehou het.
Lees die Herald se berig oor Gerhard hier: Gerhard is ‘n man met ‘n plan
Gerhard het vertel dat hy baie vêr stap en met sy fiets en waentjie ry om hierdie materiaal in die hande te kry. Hy het gesê dat dit harde werk is om herwinning te doen en dat sy R200 swaar verdiend is.
Op Vrydag, 11 Augustus het Gerhard weer by die Herald se kantore opgedaag. Hy het verwaarloos voorgekom, was negatief, hartseer en het in pyn verkeer. Hy het vertel dat hy onlangs van sy enigste fiets en ander kosbare besittings beroof.
“My fiets en al my besittings is weg, my bed, alles. Ek is van al my besittings beroof. Ek het ‘n saak by die polisie gaan oopmaak,” het Gerhard gesê.
Volgens hom het ‘n man onlangs by hom in sy sinkhut ingetrek. Die man se enigste besitting was ‘n sak klere. Die persoon het hom eendag uit die bloute met ‘n sambok geslaan en met ‘n mes gedreig. Gerhard is by die Randgate-kliniek vir sy oor- en handbeserings behandel.
Hy is nou op moedverloor se vlakte want sonder sy fiets en waentjie kan hy nie sy herwinningswerk doen nie en is sy enigste inkomstebron daarmee heen. Hy het gesê dat hy ook vir sy ma sorg en dat hulle nou in die bos woon. ‘n Desperate Gerhard het gesê hy weet nie hoe hulle twee dit gaan oorleef nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



