NewsSchools

Melktandjies-kleuters getooi in kleure vir jaarlikse konsert

Melktandjies-kleuters het die asems weggeslaan tydens hul konsert met uitbeeldings van onder andere Moana, Zootopia en Ice Age.

Melktandjies-kleuters het die asems weggeslaan en glimlagte op gesigte gesit deur verskeie treffer-kinderflieks tydens hul jaarlikse konsert uit te beeld.

Die tema was ‘Kids Movies on Stage’.

Melody Musekwa loop in die gang af met haar kers voor die gradeplegtigheid.

Die verwelkoming is deur Denise Kruger, skoolhoof van Melktandjies gedoen. Die saal was natuurlik propvol en ouers kon nie wag om hul kinders op die verhoog te sien pronk nie. Die openingsgebed is deur Reverend Zola Mtshiza gedoen.

Eerste op die program was die gradeplegtigheid van die maats wat aan die einde van die jaar skool toe gaan. Die kinders het te pragtig gelyk in hul togas en elkeen het met ‘n kers ingestap. Denise het hul kers doodgeblaas as ‘n teken van die nuwe skoolloopbaan wat op hulle wag.

Die graduandi met hul kerse.

Kailey Kruger, Lernique Durman, Mbali Butelezi, Paul Gwenzi, Peace Mlambo, Roehandre van Rooyen en Melody Musekwa was almal deel van dié groep. ‘n Skyfievertoning het gevolg om hul tyd by die skool uit te beeld.

Hierna was daar ‘n vertoning deur die Mickey Mouse-groep met New Edition as lied. Die kleuters se uitrustings was uit die boonste rakke. Hulle is gevolg deur die Zootopia-groep met Try Everything as lied.

Aanya Meerkotter dans al te lekker vir die toeskouers.

Moana, wat gaan oor ‘n avontuurlustige tiener wat op ‘n missie is om haar mense te red, is ook uitstekend deur ‘n groep jong sterre voorgestel. Daarna was die Trolls-groep in aksie met hul lied Can’t stop the feeling.

Die Rio-groep met I Wanna Party was toe aan die beurt, en teen daardie tyd was die gehoor se litte los. Bambi is daarna opgevoer waartydens positiewe boodskappe aan almal oorgedra is.

‘n Mens sou kon dink dat die kleuters toe al uitgeput was, maar hulle kon nog hul beste gee in Ice Age, asook I like to move it van Madagascar en I will survive van The Angry Birds Movie.

Paul Gwenzi glimlag vir die Herald.

Tussen al die optredes deur was daar ook skyfievertonings.

Met die laaste item van die aand het al die kinders op die verhoog gestaan en Praise the Lord every day gesing, waarna Denise almal, veral die kleuters, vir hul harde werk en deursettingsvermoë bedank het. Sy het ook al die ouers en onderwysers hartlik bedank. Die konsert was ‘n reuse sukses danksy die oorspronklike dekor en die kleuters se geesdrif.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button