CrimeNews

Gesin van Culemborgpark vasgebind, beroof

NET IN: Gesin van Culemborgpark is gisteraand met vuurwapens aangehou, vasgebind en beroof.

‘n Gesin van Culemborgpark is gisteraand (Maandag, 4 September) in hul oprit van hul huis met vuurwapens aangehou, vasgebind en beroof.

Kaptein Appel Ernst, Randfontein Polisie-woordvoerder het die voorval bevestig. “‘n Gesin is omstreeks 7.21nm in hul oprit oorrompel. Drie verdagtes het na bewering in ‘n wit Corsa in hul oprit ingery,” het sy gesê.

Sy het vertel dat die gesin met wapens in die huis ingedwing is maar dat ‘n 41-jarige vrou daarin kon slaag om die alarm te aktiveer. Die gesin, wat bestaan uit ‘n man en vrou en twee tienerseuns, is met kabelbinders vasgemaak. Terwyl die rowers hulleself aan waardevolle items soos juwele, ‘n televisie en selfone gehelp het, het ‘n reaksie-offisier hulle onderbreek. Skote het in Culemborgpark geëggo soos die reaksie-offisier en rowers op mekaar losgebrand het.

Johan Krogh, algemene bestuurder van EPR Sekuriteit, het die voorval só geskets: “EPR reaksie-offisier Kevin Kotze het omstreeks 7.19nm ‘n panieksein uit Franschhoekstraat ontvang. Met sy aankoms by die adres twee minute later het hy ‘n wit Opel Corsa opgemerk wat in die straat staan. Hy het ook gesien dat die motorhuis en voordeur oopstaan en dat die gesin vasgebind op die vloer lê.

“Met dié het die verdagtes uit die huis gestorm en vuurwapens op hom gerig. Kotze het geretireer en toe die verdagtes op hom begin skiet, het hy dekking by sy voertuig gesoek. Die EPR-voertuig is verskeie kere getref.

“Kotze het teruggevuur en die verdagtes het gevlug. Kotze het vir bystand gevra, en skofleier Blom het gehelp om die gesin los te sny. Niemand is in die voorval beseer nie. Die verdagtes het met ‘n selfoon en juweliersware weggekom.”

Brigadier Jacob Manamela, Randfontein Polisie-bevelvoerder het na die voorval gesê, “Die bestuur van Randfontein Polisie is baie dankbaar dat niemand beseer is tydens die rooftog nie. Ons sê dankie aan die GPF, EPR en Trio Taakspan vir hul vinnige reaksie tydens die rooftog.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button