Denise, 15, wag vir ‘n wonderwerk
'n Tienermeisie ly aan akute rugpyn 24 uur 'n dag en het finansiële hulp vir behandeling nodig.
Al ooit gedink dat jou lewe handomkeer kan verander? Dit is die geval met die 15-jarige Denise Swart van Hillshaven.
Denise het in 2016 aanhoudend rugpyn ervaar. Haar ma, Belinda, het eers gedink die pyn is as gevolg van haar swaar skooltas, maar in Oktober vanjaar het Denise se rugpyn ondraaglik begin word.
“Daar het ook ‘n vreemde knop op Denise se rug verskyn wat net nie wou weggaan nie,” het Belinda verduidelik.
Belinda het Denise na ‘n spesialis toe geneem wat ‘n erge vorm van skoliose – verkromming van haar ruggraat – gediagnoseer het. Dit is ‘n abnormaliteit wat voorkom wanneer die ruggraat roteer en sywaarts buig. Dokters het aan hulle verduidelik dat die toestand nie gewoonlik met erge pyn gepaard gaan nie, maar dat dit wel by Denise die geval is.

Dokters het haar aangeraai om ‘n MRI-skandering te laat doen, waarna ‘n rugfusie op haar gedoen moet word. Dit sal ongeveer R500 000 beloop. Ten spyte daarvan dat Denise nooit sonder pyn is nie, weier hul mediese fonds om vir die nodige skanderings en operasie te betaal.
Belinda, ‘n enkelma, het intussen haar mediese skema-opsie verbeter met die hoop dat die fonds vir die operasie sal betaal. Alhoewel Denise baie positief is, is sy baie bang en word reeds by die skool gespot weens haar toestand.
Daar is ook glo die moontlikheid dat sy verlam kan raak en dalk nooit kinders sal kan hê nie.
Belinda se kollegas staan haar by en doen alles in hul vermoë om haar las te verlig. Hulle beplan ‘n gholfdag en ‘n fondsinsamelingsaand vir Denise se behandeling.
Hoewel die nuwe jaar nie juis baie opwindend vir Denise lyk nie, sal Belinda alles moontlik doen om haar kind se gesondheid te verseker. Hulle vertrou dat die operasie so gou as moontlik uitgevoer sal kan word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



