Edna streef na ‘n verskil
Edna wil ander graag inspireer en aanmoedig om soortgelyke organisasies op die been te bring.
Plaaslike inwoner, Edna Walker wil ander inspireer en weer in hulself laat glo.
Edna woon haar lewe lank in Randfontein en spits haar daagliks daarop toe om ‘n verskil te maak. Sy is betrokke by verskeie skole se fondsinsamelingspogings en beoog om binnekort seminare aan te bied.
Edna glo dat alle take wat jy aanpak baie makliker is as jy deur die regte persone ondersteun word. Sy het aan die Herald vertel dat haar hart nog altyd by mense was.
Sy het bygevoeg dat almal die een of ander tyd aanmoediging nodig het en wil hê dat mense in hulle moet glo. Sy glo met haar hele hart dat gebroke volwassenes nie gebroke kinders volkome kan ondersteun nie.
“Eendag by ‘n kinderhuis het een van die inwonertjies van ongeveer sewe jaar oud gevra dat ek na sy mooi kamer gaan kyk, wat hy met vier ander kindertjies deel. Bokant sy bed het gestaan, “Al het my pa en ma my verlaat, die Here my God sal my nooit verlaat nie”. My trane het vanself begin rol en van daardie dag af het my besluit om daadwerklik ‘n verskil te maak meer in my siel begin brand,” het Edna gesê.
Sy het vertel dat sy ‘n organisasie, EVW Projects gestig het wat fondse vir skole insamel en gelukstrekkings hou met duur pryse soos buitelandse vakansies op die spel. Die organisasie fokus ook daarop om die haweloses, minderbevoorregtes en ander in nood te help.
Edna begin deur skole te nader om die kaartjies vir die gelukstrekkings te verkoop. Deelnemende skole kry ‘n bedrag uit die kaartjieverkope wat hulle kan aanwend soos hulle goed dink. Die organisasie identifiseer dan leerders in wie se behoeftes hulle deur die jaar help voorsien.
Edna wil ander graag inspireer en aanmoedig om soortgelyke organisasies op die been te bring, om in hulself te glo en te weet dat hulle alles kan aanpak waarin hul glo.
Haar wenke:
• Bly weg van negatiwiteit
• Omring jouself met die positiewe
• Lag, lag en lag… en lag die hardste vir jou eie foute
Haar doelwit is om werklik ‘n verskil te maak – of dit is om ‘n kaartjie te koop of om ‘n sak klere te skenk, of om ander weer te laat hoop. Haar doel is nie om onthou te word nie, maar om ‘n verandering in mense se harte te bring. Om betrokke te raak by die organisasie, kontakevwprojects@gmail.com.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



