#WysheidWoensdag: Borskanker by diere
KYK VIDEO: Het jy geweet diere kan ook borskanker kry?
Oktober is Borskankerbewustheidmaand en hoewel dit ‘n ernstige en algemene probleem by mans en vroue is, kan diere ook aan borskanker ly.
Die Herald het meer oor borskanker by diere by dr Johan Naudé van die Randfontein Dierehospitaal in Randgate gaan uitvind.
Volgens hom is borskanker algemeen by wyfiekatte en teefhonde.
“Borskanker ontstaan as gevolg van hormoonveranderinge en ’n irritasie van selle, net soos by die mens. Wanneer ’n teef byvoorbeeld gesteriliseer word voor sy die eerste keer op hitte gaan, is haar kans kleiner om borskanker te ontwikkel. Die rede daarvoor is dat wanneer honde op hitte gaan, dit dieselfde is as menstruasie by vroue, wat beteken dat hormoonvlakke verander,” het Johan gesê.
Die algemeenste teken van borskanker by diere is knoppe op die borste. Johan het voorgestel dat diere deur ’n veearts ondersoek moet word sodra knoppe opgemerk word, want as dit nie onmiddellik behandel word nie kan dit oopbars.
“Wanneer die diere met borskanker gediagnoseer word, word ’n eenvoudige operasie gedoen om dit te verwyder, tensy die kanker reeds na ander organe versprei het.
Diere wat nie gesteriliseer is nie, word dan ook gesteriliseer om verdere hormoonverandering te voorkom. Borskanker by diere is geneesbaar as dit betyds uitgesny word,” het hy gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



