Die kleuters van Little Angels Dagsorgsentrum het onlangs aan Kleuterzone se kleuterkampioenskappe deelgeneem en gaan binnekort op kykNET te sien wees.
“Ons kleuterskool is uit 90 skole gekies om op 4 November teen vyf ander skole in Pretoria aan Kleuterzone se kleuterkampioenskappe te gaan deelneem. Ons het in die Top 5 geëindig en drie trofeë ontvang – vir beste liedjie van ons keuse, cute factor en die vriendelikste groep,” het Chevonne Buitendag, eienaar van dié dagsorgsentrum gesê.

Die program sal op 4 Desember op kykNET kanaal 146 te sien wees.
“Ons het net weer vir die gemeenskap gewys dat dit nie gaan oor hoeveel kinders in ons skool is nie, maar met die Here aan ons kant en in ons harte kan ons nog groot hoogtes bereik,” het sy gesê.

“Ek is baie trots op ons kleuters wat so klein en jonk is, maar al soveel selfvertroue het om so ver te kon kom in dié kampioenskappe. Hulle wys net weer dat baie liefde en aandag van hul juffrouens ’n reuse verskil maak.”
Die klein kleuterskool is baie trots op wat hulle bereik het.

“Baie dankie aan Kleuterzone en die Abs-produksiespan vir die geleentheid wat ons gekry het om vir almal te kan wys dat Little Angels Dagsorgsentrum nog ’n klein skooltjie is wat ‘n groot impak gaan maak,” het sy bygevoeg.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



