Local newsNews

Nagenoeg 300 diere soek skuiling by DBV in feestyd

Die Randfontein en Westonaria DBV het gedurende die feesseisoen reeds 285 troeteldiere ingeneem en die getal groei steeds daagliks.

Die feesseisoen is vir meeste ‘n tyd vir familie, maar baie troeteldiere word in dié tyd verwaarloos en weggegooi.

Volgens Nadia du Plessis, bestuurder van Randfontein en Westonaria Dierebeskermingsvereniging (DBV) het hulle oor dié tydperk 285 troeteldiere ingeneem en die getal groei daagliks.

“Ons kry elke dag ‘n gemiddeld van 10 diere in. Dié toename begin net voor die skoolvakansie, want baie mense kom laai hul honde en katte hier af vir die vakansie, maar hulle kom haal die diere nie nooit weer. Vyftig diere is oorhandig omdat hul eienaars nie meer vir hulle kan of wil sorg nie,” het Nadia gesê. “Vir my is dié tyd van die jaar nie ‘n feestyd nie. Daar is soveel selfsugtige mense wat in dié tyd net aan hulself dink en nie omgee oor die diere wat hulle weggooi of verwaarloos nie.”

Aan die einde van 2018 het die DBV tevergeefs gepleit dat mense die nodige voorsorg tref vir hul troeteldiere gedurende die feesseisoen. Daar is op die oomblik baie meer diere as hokke op die perseel en daar is plek-plek tot vier diere in een hok.

“Hier is ook 225 nuwe rondloperhonde en -katte by die DBV. Ongeveer die helfte daarvan het ons opgelaai, die res het mense hierheen gebring. Ons het een babahondjie opgetel wat ‘n gebreekte femur gehad het. Ons weet nie wat met haar gebeur het nie, maar die been kon nie gered word nie. Ons beplan ‘n fondsinsameling om haar veeartsrekening te betaal. Gelukkig was daar nie ander ernstige beserings gedurende die tydperk nie.”

Nog ‘n groot probleem was mense wat gaan vakansie hou of getrek het en hulle diere sonder kos en water by die huis gelos het.

“Ons het ‘n hond by ‘n leë huis in Azaadville gekry. Haar eienaars het gedurende die vakansie getrek en haar net daar gelos. Sy is gelukkig een van die min honde wat ons gered het wat reeds ‘n gelukkige einde het. Terwyl die DBV haar gaan oplaai het, het iemand klaar aansoek gedoen om haar aan te neem. Sy gaan een van die dae na haar nuwe huis toe,” het Nadia gesê. “Ons hoop dat baie van hierdie diere gou aangeneem gaan word, want hulle verdien goeie huise. Ek sal aanhou probeer om hulle te help.”

Die DBV is ook baie dankbaar vir die gemeenskap wat die onwettige verkoop van honde langs die pad aanmeld, want volgens Nadia is dit ‘n algemene verskynsel in R’fontein.

“Ons kan slegs ons deure met die publiek se hulp oophou, daarom wil ek net dankie sê aan ons grootste staatmakers – Devon Tromp, Eagle Stoeiklub, Furry Godmothers, Devine Pooches Hondesalon, Spiffs Hondesalon, Randwest Nissan, Nola en elke mens wat omgee en uitreik om die diere te help. Ons sê nie genoeg dankie vir ons gemeenskap nie maar ons waardeer hul hulp, veral in tye soos dié,” het Nadia bygevoeg.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button