Eagles Stoeiklub, bejaardes maak kunswerke
Eagles Stoeiklub se stoeiers het sandkuns saam met die lede van die NG Kerk Noord se seniorburger-aksie gedoen.
Die stoeiers van Eagles Stoeiklub in Randgate het op 28 Maart by die bejaardes van die NG Kerk Noord gekuier.
Hulle het tydens dié byeenkoms sandkuns saam met die lede van die kerk se seniorburger-aksie gedoen en heerlike koek en tee geniet.

“Ons hulpafrigter, Danie en sy vrou Meloni Kruger, verkoop jaarliks sandkuns by die Randfontein Skou en hy het besef dat veral bejaardes daarin belangstel. Ons het besluit om by die bejaardes te kom kuier en hulle te leer hoe om sandkuns te doen,” het Riaan Groenewald van die stoeiklub gesê.
Die stoeiers het die bejaardes gehelp om die plakkers af te trek en die sand mooi te gooi. Hulle kon aan die einde van die dag hul kunswerke huis toe neem.

“Ons probeer om elke maand iets vir die gemeenskap te doen en ons het besluit dat ons in Maart graag iets vir die ouer generasie wil doen. Ek dink die stoeiers en die bejaardes het dit ewe veel geniet,” het hy bygevoeg.




