NewsSchools

Ram bied sy eie Wetenskap-ekspo aan

Jong wetenskaplikes van kleins af by Ram gekweek.

Laerskool Randfontein het onlangs hul eie Natuurwetenskappe-ekspo vir sy Graad 7-leerders aangebied.

Die Nasionale en Provinsiale Onderwysdepartemente verwag dat elke Graad 4- tot 12-leerder in Natuurwetenskappe minstens een volledige wetenskaplike ondersoek per jaar moet doen.

Laerskool Randfontein se Natuurwetenskappe-onderwysers onder die leiding van Annie Nolan het toe besluit om hul eie NW-expo aan te bied, wat volgens Annie ‘n reuse sukses was.

Graad 7-leerders kon hul eie onderwerp uit een van 15 kategorieë kies.

“Leerders het die keuse gehad om in groepe van tot vier leerders of individueel te werk. Hul het die gekose onderwerp of probleemstelling deeglik nagevors deur die wetenskaplike metode te gebruik.

Elri Bosman en Liane van der Walt.

“Elke groep het ‘n plakkaat saamgestel wat die probleemstelling, hipotese, metode van dataversameling, data-analise en gevolgtrekking bevat het. Die plakkaat is vergesel van ‘n uitbeelding van die eksperiment.

Leerders het hul uiters goed van hul taak gekwyt en besonderse projekte aangebied.”

Volgens Annie het die topprojekte oor energie-opwekking, mondhigiëne, foto’s en hitte-terapie gehandel.

“Die Graad 7’s se NW-personeel het die leerders geassesseer. Die punte vorm deel van die vierde kwartaal se formele assesserings. Na die assessering het die Graad 1 tot 6 leerders die geleentheid gekry om die NW-ekspo te besoek. Daar is lekker met die Graad 7’s gesels en baie nuwe kennis is uitgeruil.

“Dis ongelooflik om te sien wat die leerders in ‘n jaar geleer het, hoe uitgehonger hulle is om met wetenskap te eksperimenteer, en die ware leergierigheid. Dit gee my hoop vir die toekoms, want ek weet jong wetenskaplikes word van kleins af gekweek.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button